“Dis klere vir die rooi tapyt en swembroeke. Die reeks noem ek Gerber Red Carpet, en dis ’n verskeidenheid rokke vir ’n matriekafskeid, ’n geleentheid of dinee, ’n skoonheidskompetisie of ’n première. Dan is daar verskillende soorte swembroeke. Dis modieus, stylvol en sexy. En ek is ’n groot aanhanger van kant,” vertel sy.

Die klere word gemaak deur Kyna Consili, en sy is tans besig om na uitgesoekte boetieks te kyk om te besluit waarin sy die klere wil verkoop. “Ek wil dit baie eksklusief hou.”

Hoewel sy steeds self haar eie handelsmerk verteenwoordig, wil sy graag een gelukkige meisie die geleentheid bied om ’n jaar lank die gesig van haar reeks te wees. “Ek wil vir haar deure oop maak om te groei. Dis ’n goeie manier om na my teikenmark uit te reik.”

Die belangrikste ding wat Angelique in die meisie soek, is ’n goeie karakter. “Haar hart moet op die regte plek wees en sy moet honger wees vir so iets. Sy moet bereid wees om hard te werk en toegewyd wees. Sy moet geesdriftig wees oor my klere en sy moet meer wil leer oor die bedryf.”

Verder is ’n gesonde leefstyl vir Angelique ’n moet. “Geestelik en liggaamlik moet sy gesond wees, sy moet oefen en reg eet. Sy gaan my handelsmerk verteenwoordig, so mense moet opkyk na haar. Sy moet verkieslik ook nie iemand wees wat star stuck is nie, want sy sal op 30 Januarie saam met my na die première van Pad Na Jou hart moet gaan. Dus moet sy gemaklik wees met ’n rooi tapyt en professioneel wees.”

Nee, dis beslis nie net die mooiste meisie na wie sy soek nie. “Ook nie die perfekste nie. Ek gaan na hulle karakter kyk, en ek moet ’n jaar saam met haar ’n pad kan stap. Sy moet nederig wees en nie gefokus op voorkoms nie. Sy moet na haarself kyk, want as jy lief is vir jouself, sal ander mense ook vir jou kan lief wees.”

  • Angelique is op soek na iemand tussen 16 en 30. Die ervaring sluit in video’s, premières, ’n voorblad, modeparades, radio-onderhoude en vele meer.

Hier is die inskryfvorm en die reëls.

Inskrywings sluit 6 Desember 2013. Die top-100 sal dan gekies word op grond van die verskafte foto saam met jou inskrywing. Op die 8ste Desember sal die top-100 aangekondig word op sosiale media. Die beoordelaars se beslissing is finaal.

Loren Pienaar (@Loren_Pienaar)

Klik hier om te kyk hoe Angelique jou uitnooi om in te skryf: