Justin Bieber koop glo vir Selena Gomez ’n diamantring.

Neil Lane, ’n juwelier van Beverly Hills, het opdrag gekry om die stuk van sowat R9,3 miljoen te ontwerp. Goeie vriende van die As Long As You Love Me-sanger dink nou hy is gereed om sy aan-af-meisie die jawoord te vra.

Die juwelier het al vir verskeie sterre verloofringe geskep, onder wie Britney Spears. En al wil hy nie oor sy klante kommentaar lewer nie, het ’n bron Justin se planne bekendgemaak.

Die bron het aan die Daily Star gesê: “Justin wil in die volgende week saam met Neil na die finale ontwerp kyk.

“Op die oomblik is sy gunsteling-idee ’n reuse, kanariegeel prinsessnit-diamant omring deur kleiner diamante en in wit- of geelgoud geset.”

Justin se program word vir Selena se 21ste verjaardag in Julie oopgehou en dit lyk of sy knaendheid vrugte afwerp.

Die bron het bygevoeg: “Justin het haar met SMS’e, e-posse en oproepe oorval al het sy hom verlede jaar die trekpas gegee.

“Justin se ma, Pattie, het ook druk op Selena geplaas nadat sy tot die gevolgtrekking gekom het net sy kan hom op die regte kan hou.”