juliaroberts

Tonge klap dat Julia Roberts haar vierde kind by haar man, Danny Moder, verwag nadat sy in Los Angeles gewaar is met ’n opmerklike boepie, verberg deur ’n oorgroot top.

Die 46-jarige ster van August: Osage Country was saam met Danny, ’n kameraman, by sy ouers se huis toe sy gekiek is, berig TMZ.com. Sy en Danny, met wie sy 11 jaar getroud is, het ’n agtjarige tweeling, Hazel en Finn, en sesjarige seun, Henry.

Die Oscar-bekroonde aktrise het onlangs vertel hoe sy haar loopbaan en gesinslewe balanseer, en geskerts haar agent is bekommerd sy gaan binnekort ’n voltydse ma word. “My loopbaan raak rustiger en hy het gedink ek moet iets doen voor ek alles laat vaar om kinders rond te karwei,” het sy gesê.

Sy het ook gesê sy sal wag tot die regte rol opduik. “Die dinge wat reg is vir my sal opduik wanneer ek daarin belangstel is en die vermoë en begrip het om dit te doen. Ek kan seker teleurgesteld wees as ek nie ’n rol kry nie, maar as ek sien wie dit gekry het, dan dink ek: Dis reg so.”

Julia het al gesê sy voel sy “verdien” ’n blaaskans van Hollywood sodat sy met ’n gesin kan begin nadat sy sowat twee dekades toneelgespeel het.

“Ek het 18 jaar gewerk toe ek sowat nege jaar gelede die lewe aan Hazel en Finn geskenk het en het gevoel ek het die tyd by die huis en in my kombuis en heeldag in die bed met die twee mensies verdien. Ek het gevoel dis my geskenk aan myself.

“Ek het hard gewerk en was baie toegewy daaraan. Toe kry ek hierdie wonderlike geskenk waarop ek heeltemal geregtig gevoel het. My werk is nog baie belangrik, maar ek het geleer om ander dinge ook in ag te neem.”