Tegnologie is onlosmaaklik deel van ons lewe en as ouers sien ons ons kinders toenemend verslaaf raak aan elektronika. Kenners waarsku dat ons dit nie te gou as ’n probleem identifiseer nie en versigtig moet wees oor hoe ons ons kinders nader wanneer ons hulle oor hul tegnologiegebruik konfronteer.

Dit is nie verrassend wanneer jy hoor jou kind het ’n groeiende afhanklikheid van tegnologie nie. Of dit ’n TV-, slimfoon- of rekenaarspeletjie, tablet of sosiale media is, hulle gebruik dit gereeld. Helene Vermaak, ’n raadgewende sielkundige by The Human Edge, sê ouers oral wens hul kinders sou ander aktiwiteite kies.

Sy sê voor jy besluit elektroniese speletjies is ’n probleem in jou huis, moet jy jou bes doen om te bepaal of speletjies ’n manier is waarop jou kind ’n ander probleem probeer hanteer – soos boelies, depressie, angs, eensaamheid of ander sosiale of emosionele probleme. “In baie gevalle is dié speletjies ’n ontvlugting van die alledaagse lewe. Dit is belangrik te kyk of daar enige probleme aan die wortel van die afhanklikheid lê.

“Wanneer jy die probleem met jou kind benader, moenie die gesprek begin met gevolgtrekkings en wyshede nie (soos ‘Ek dink jy het ’n probleem’ of ‘Lees is beter vir jou brein’). Probeer eerder met nuuskierigheid en ’n verlange om met hulle te konnekteer,” sê Helene.

Vertroue is toestemming om te beïnvloed, en jou kind beheer wie hulle vertrou. Toon belangstelling in hul belangstellings. Bring tyd saam met jou kind deur. Bekragtig hulle. En wanneer die tyd reg is, roer jy die saak aan. Jou enigste hoop om jou kinders ander keuses te help maak, is om hul gevoelens en selfstandigheid te respekteer – moenie preek nie.

Oningeligtheid oor slegte gewoontes onderhou dit. “As jy jou kind anders wil help ‘kies’, sal jy hulle moet help om die negatiewe kant van die gewoonte so intens moontlik ervaar soos wat hulle die positiewe kant ervaar.”

Wat hulle nou met die speletjie assosieer, is ’n gevoel van verbintenis, genot, sosiale interaksie (as hulle aanlyn speel), meesterskap en dalk veilige afsondering. As hulle iets anders gaan kies, gaan hulle moet voel dan ander keuses beter gevolge sal skep. Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit is ’n grondliggende probleem wat jy moet oplos. Die eerste stap is om hulle in ervarings te sit wat hulle óf gaan leer van die negatiewe gevolge van hul huidige keuses óf van die positiewe gevolge van ander keuses.

Helene stel ’n onthoudingstoets as eerste stap voor. “Deel die definisie van verslawing met jou kind en nooi hulle om ’n eksperiment te doen waar hulle self die verskil ontdek tussen ’n gesonde en ongesonde afhanklikheid van speletjies. Laat hulle ’n rukkie daarvan weerhou en hul gevoelens daaroor neerpen.

“Laat hulle aan aktiwiteite dink wat lekkerder kan wees as speletjies. Moedig hulle aan en ondersteun hulle met die eerste poging.”

Helene sê voor jy dié verslawing met jou kinders bespreek, moet jy ook kyk na jou eie afhanklikheid van tegnologie. “Baie van ons het ’n ongesonde verhouding met tegnologie wat tot negatiewe gevolge kan lei,” sê Helene. Bel 012-345-6281 of besoek humanedge.co.za vir nog inligting.