DEESDAE is kinders amper net so besig soos hul ouers. Ná skool is dit ballet of rugby, en daarna moet hulle na ’n musiekles, ekstra wiskundeklas of dramarepetisie jaag. Wanneer hulle eindelik by die huis kom, is hulle pootuit, maar dan lê ’n berg huiswerk nog voor. Buitemuurse aktiwiteite is deel van jou kind se skoollewe, maar hoeveel is te veel? Ons het by kenners gaan uitvind hoe jy jou kind ’n gesonde balans tussen naskoolse aktiwiteite en vrye tyd kan help handhaaf.

Te veel van ’n goeie ding?

Buitemuurse aktiwiteite hou verskeie voordele in, sê kenners.

“Kinders wat aan verskillende sulke aktiwiteite blootgestel word, leer nuwe vaardighede aan en ontdek nuwe talente,” verduidelik Melissa Bothma, ’n Kaapse opvoedkundige sielkundige.

“Hulle leer ook sosiale en probleemoplossingsvaardighede, spanwerk en die reëls en regulasies van verskillende speletjies en sportsoorte aan, en hulle leer ken hul eie sterk en swak punte beter,” sê sy. Dis baie belangrik om ’n balans te kry tussen naskoolse aktiwiteite en vrye tyd. Laasgenoemde bied kinders ’n kans om te ontspan, pret te hê, sosiale vaardighede aan te leer en hul verbeelding te gebruik.

Hulle leer ook hoe om hulself besig te hou, en dit moedig hulle aan om onafhanklik te dink, sê Cristine Scolari, ’n kliniese sielkundige van Bedfordview, Johannesburg.

Maar hoe weet jy jou kind word oorlaai met naskoolse aktiwiteite?

Wees op die uitkyk vir hierdie gevaartekens, sê Zandile Shabangu, ’n opvoedkundige sielkundige van Vanderbijlpark:

- Jou kind kla gereeld oor moegheid.

- Hulle ly aan spanning.

- Hul skoolpunte gaan agteruit.

- Liggaamlike simptome soos gereelde hoofpyn of ander skete steek kop uit.

- Hulle sukkel om alles te behartig of loop gereeld vasgestelde aktiwiteite mis.

- Hulle is angstig, depressief, teruggetrokke of prikkelbaar.

- Hul eet- en slaappatrone verander.

Te jonk, te veel?

Daar is geen spesifieke ouderdom waarop kinders met buitemuurse aktiwiteite moet begin nie.

“Dit hang af van die kind se omgewing, temperament en die omstandighede in sy gesin en skool,” sê Cristine.

Party kleuterskole moedig byvoorbeeld hul leerders aan om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem; ander nie. ’n Vierjarige meisie wil dalk met balletlesse begin, want haar maats doen dit reeds. Of ’n jong seun wil, nes sy ouer broer, karate neem.

Kinders tussen vyf en sewe kan aan een of twee aktiwiteite per week deelneem, maar die riglyn verskil van kind tot kind, sê Cristine.

Ouers moet seker maak hul kinders word nie oorlaai nie, waarsku sy. Laerskoolkinders bo sewe kan aan twee of drie buitemuurse aktiwiteite per week deelneem.

Hoërskoolleerders kan vier tot vyf keer per week daarmee besig wees, maar ouers moet onthou hul akademiese werklas is baie groter op hoërskool. Dis baie moeilik om te sê hoeveel uur per week ’n hoërskoolleerder aan buitemuurse aktiwiteite kan afstaan, sê Cristine.

“Dit is dikwels raadsaam om met die onderwyser of skoolhoof daaroor te praat. Hulle kan jou riglyne gee oor hoeveel tyd ’n kind in ’n bepaalde graad aan huiswerk moet wy.”

As jou kind briek aandraai.

Hoe gemaak wanneer jou kind nie meer aan ’n sekere buitemuurse aktiwiteit wil deelneem nie? Ná ’n maand van rugby speel sê jou kind dalk hy wil nou liewer hokkie speel.

En oor twee maande kry hy lus vir karate. Praat met jou kind oor sy besluit, sê kenners. Hoekom wil hy ophou? Verpes hy regtig rugby? As dit die geval is, moenie hom dwing om aan te hou speel nie. Of is daar dalk iemand in sy span wat hom afknou?

Probeer dié probleem oplos.

“As ’n ouer vermoed die kind wil bloot ophou omdat hy liewer meer PlayStation wil speel of lui is, moet die ouer hom aanmoedig om vas te byt, want alle aktiwiteite is nie altyd pret nie, net soos die lewe nie altyd lekker is nie,” sê Melissa.

Ouers moet ook nie te bekommerd wees wanneer kinders party aktiwiteite laat vaar namate hulle ouer word nie. Tieners het gewoonlik ’n beter begrip van wie hulle is en waarin hulle belangstel. “Hulle los ander aktiwiteite en besluit om aan net een of twee uitgesoekte aktiwiteite deel te neem,” sê Melissa.

As jou kind weier om aan enige naskoolse aktiwiteite deel te neem, moet jy probeer vasstel waarom, sê Cristine.

“Is dit ’n geval van swak selfvertroue? Wees versigtig om nie jou drome deur jou kind te probeer uitleef nie,” waarsku sy.

“Soms voel kinders moedeloos omdat hulle glo hulle moet ’n spesifieke sport beoefen, terwyl hulle eintlik glad nie daarin belangstel nie. Help jou kind ’n aktiwiteit kry wat hy sal geniet.”

- Petro-Anne Vlok