Het jy al gehoor van voorvalle waar mense per ongeluk hul bure se hek, of dié van iemand anders in die omgewing, met hul eie afstandbeheer oopgemaak het? Dit is nie net ’n bangmaakstorie nie! Daarby is dit ook moontlik vir diewe om jou afstandbeheer se sein te dupliseer en dit dan later te gebruik om jou hek oop te maak. Dis die een ding wat jou erf veilig hou; hoe werk dit en hoe gemaak om dit te verhoed?

“In Suid-Afrika is 433,92 MHz die frekwensie waarop die meeste afstandbeheertoestelle funksioneer. Dit is dus moontlik dat, wanneer jou bure (wat dieselfde tipe afstandbeheer as jy het) ’n knoppie op hul toestel druk terwyl jou ontvanger in programmeringsmodus is, hul afstandbeheer aanvaar word vir toegang tot jou eiendom. In hierdie toestand ‘luister’ die ontvanger vir geldige uitsendings, en as jou bure ’n geldige knoppie druk, word dit deur die stelsel aanvaar,” verduidelik Elmarie Twilley, ’n woordvoerder van Virseker.

Gelukkig is dit ook nie met alle afstandbeheerstelsels moontlik nie.  Richard Rohman van Centurion Systems verduidelik: “Dit is eintlik slegs moontlik met ouer, vastekode-afstandbeheerstelsels, waar die kode wat versend word, nooit verander nie. Die meeste nuwe versenders gebruik kodehop-tegnologie; elke kode wat versend word, is heeltemal uniek en verskillend is van die vorige kode. Dit maak dit feitlik onmoontlik vir misdadigers om die kode te dupliseer of te breek.”

Die nuwe generasie ontvangers het funksies soos ’n “druk drie sekondes”-leer en “dubbeldruk”-leer wat hierdie probleme uit die weg help ruim. “As jou afstandbeheer rolkode-tegnologie het, sal die kode ná elke gebruik verander. Dit maak enige ander afstandbeheertoestelle behalwe joune nutteloos,” sê Elmarie.

Hier is ’n paar nuttige veiligheidswenke:

•         Maak seker jy gebruik slegs afstandbeheertoestelle wat kodehop-tegnologie en enkripsie gebruik, aangesien dit heelwat veiliger is.

•         Wanneer jy jou outomatiese motorhuisdeur toemaak, hou die deur dop tot dit heeltemal toe is om seker te maak niemand glip onderdeur nie.

•         Kontak ’n sekuriteitsmaatskappy en span hulle in om jou te help om ’n nuwe, veiliger stelsel op te stel.

•         Hou jou afstandbeheertoestelle veilig. Moenie kinders daarmee te laat speel nie; dit voorkom dat iemand dit steel.

•         Wanneer jy jou motor buite jou motorhuis parkeer, maak seker dat jy dit sluit sodat potensiële inbrekers nie toegang tot jou afstandbeheertoestel, en later jou motorhuis, kan verkry nie.