As jy verlede week nog nie geweet het wie die invloedryke Gupta-familie is nie, kon mense jou dalk nog jou onkunde verskoon, maar jy bly waarskynlik in ’n grot as jy die hoofopskrifte gemis het waarvoor die broers die afgelope paar dae gesorg het.

[caption id="attachment_120221" align="alignnone" width="600"]Pres. Zuma kan dalk voor die naweek van stryk gebring word. Pres. Zuma kan dalk voor die naweek van stryk gebring word. [/caption]
En ná jare van gerugte en gissings oor Ajay, Atul en Rajesh se invloed op ons president vanuit hul luukse Saxonwold-woning, het die haas ondenkbare vandeesweek gebeur: Twee senior ANC-strydrosse, Mcebisi Jonas, die adjunkminister van finansies, en Vytjie Mentor, voormalige parlementslid, het onthul die Guptas het hulle kabinetsposte – in ruil vir sekere politieke gunste – aangebied.

Hierdie openbarings verbaas haar glad nie, meen Rhoda Kadalie, menseregte-aktivis en die uitvoerende hoof van Impumelelo (Stellenbosch Academy for Social Innovation). “Ek het al lankal gevra wie hierdie politieke opportuniste is wat ons familie-rykdom sonder enige nagevolge steel.”

Nou is die vraag: Noudat dié skandale op die lappe gekom het, hoe lank gaan Suid-Afrikaners nog na Jacob Zuma as ons president verwys?

Die politieke gety is besig om teen die president te draai, meen prof. Daryl Glaser, Wits se hoof van politieke studies. “Ek dink dinge sal nou eindelik tot ’n punt kom. Ons het vir ’n baie lang tyd met toenemende frustrasie oor die oënskynlik korporatiewe oorname van ons staat geleef en die Guptas was al by baie verskillende skandale betrek. “Met Zuma wat in die konstitusionele hof ’n ommeswaai gemaak het oor die kwessie van staatsbesteding by sy Nkandla-woning, het hy sy rug op baie van sy ondersteuners gedraai en as die gety aanhou draai, kan hulle hom dalk in die steek laat.”

Sal die ANC die president herroep?

Nee, dié skandaal is nog glad nie die finale spyker in die Zuma-presidensie se doodskis nie, sê Rhoda, maar meen dit is duidelik dat ’n moontlike herroeping van die president wel in die toekoms kan gebeur.

“Hoekom kom mense wat die president jare lank beskerm het, skielik met dié onthullings na vore? Hulle spring van ’n sinkende skip af.”

Daryl glo dit is nog te vroeg om te sê of die ANC die president nog dié week sal herroep, selfs al meen sekere ontleders die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die naweek kan dinge dalk tot ’n spits dryf.

“Dit is eintlik merkwaardig dat buitestanders so min kennis het van die sentiment van die NUK – hulle het Zuma nog altyd ten volle gesteun. Maar die feit dat iemand soos Gwede Mantashe, die sekretaris-generaal, se steun aan Zuma tans wankelrig lyk, kan dalk ’n aanduiding wees van ’n groter beweging in die NUK.”

Hy meen die konstitusionele hof se uitspraak oor die omstrede verbeterings aan Nkandla, wat die belastingbetaler R250 miljoen uit die sak gejaag het, sal deurslaggewend wees vir die president se lewensduur en daarna sal hy oor die beslissende hekke van die munisipale verkiesings moet kom en tans lyk dit of die ANC dalk ’n loesing te wagte kan wees.

Maar as ’n mens in ag neem hoe gou die party teen die voormalige president, Thabo Mbeki, gedraai het toe hy in 2008 herroep is, kan ’n vroeë verrassing wel op Zuma wag. “ ’n Groot vraag sal natuurlik wees hoeveel magtige mense die Guptas iets skuld. As dit onthul moet word, kan dit ’n groot verleentheid vir die party veroorsaak,” verduidelik Daryl.

– Almari Wessels

Lees ook op Huisgenoot.com:

Dis waarom jy nooit aartappels in die yskas moet hou nie

‘Ek hou jou dop!’: Man vind onheilspellende 15 jaar oue boodskap in sy kaggel

Massamoordenaar Anders Breivik kla oor ‘onmenslike toestand’ van sy tronksel

Sorina jubel in HOOFLETTERS! ‘Braambossie’ se sussie is hier

George-man kry 37 keer lewenslange tronkstraf ná hy dogter se maats verkrag

Het jy ’n fotografiese geheue? Net een persent van mense kan dié raaisel oplos!