Ons eie cooler as ekke rapper, Jack Parow, het gisteraand vir die Amerikaanse rapper Eminem in die Kaap geopen en maak komende Saterdag weer so wanneer Eminem op Ellispark in Johannesburg optree.

’n Opgewonde Jack het voor die vertoning gesê: “Dis ’n groot eer. Ek is super-amped om saam met Eminem te speel.  Ek is ’n reuse fan. Dit gaan mal wees!”

[post-slider]

En mal was dit gewis. Ons het Jack ná die vertoning ’n paar vrae gevra.

Hoekom is jy ’n aanhanger van Eminem?

Wat Liriek en skryfstyl betref, is daar niemand wat naby hom kom nie. Hy skryf op ’n manier wat niemand kan nie; baie probeer, maar niemand kom naby nie.

Het jy darem kans gekry om met hom te gesels?

Ongelukkig nie kans gekry nie, maar hopelik in Johannesburg . . . Maar hy het twee keer vir my ’n shout-out gegee van die verhoog af wat obviously letterlik my brein uit my kop uit geblaas het.

En as jy Saterdag kan gesels, waaroor sal dit wees?

Ek weet nie, seker net hoe baie respek ek vir hom het en als wat hy gedoen het vir musiek . . . maar soos ek myself ken, sal ek seker net iets embarrassing tune en soos ’n loser lyk. (Hy lag.)

Wie dink jy is die beste rapper, jy of hy?

(Hy lag.) Definitief hy, maar hopelik kom ek oor ’n paar jaar ook waar hy is.

Wat dink jy het Eminem gedoen vir die beeld van wit rappers?

Verskriklik baie, ek bedoel, in die ou dae toe ek begin rap het voor hy so groot geraak het, het ek verskriklik baie *** gekry omdat ek wit (is) en “swart musiek” try maak het en dit het als verander ná hom.

Sal jy graag saam met hom wil rap?

Natuurlik! ****, dit sal die coolste ding óóit wees!

Weet jy al watter liedjies aam met hom sal wil rap?

My favourite song is As the World Turns; so ek sal dit like om dit te doen saam met hom.

Ek wil net weer sê dat hy vir my twee keer ’n shout-out gegee het van die verhoog af, regtig. No jokes. Dis next-level. (Hy lag weer lekker.)