Die studie, wat onlangs by 10 internasionale navorsingsfasiliteite gedoen is, het getoon sowat 70% van kinders tussen 12 en 15 kry minstens een keer elke drie maande kwaai hoofpyn. Meer as ’n derde van die kinders het dit meer as een keer per week ervaar.

Wat kan die oorsaak van die hoofpyn wees?

Hoofpyn gaan dikwels, maar nie altyd nie, gepaard met fisieke of emosionele faktore soos die volgende:

  • ’n Stresvolle familiesituasie.
  • Gereelde alkoholinname.
  • Kafeïeninname.
  • Rook.
  • Min fisieke aktiwiteit.
  • Fisieke of emosionele mishandeling.
  • Boelie deur portuurgroep.
  • Onregverdige behandeling by die skool.
  • Nie genoeg ontspanningstyd nie.

Die gevare van hoofpyn by kinders

Tydens ’n jaarlange studie van die mediese rekords van kinders en tieners wat onlangs by neurologieklinieke behandel is, is daar bevind dat sowat ’n kwart van die kinders wat met hoofpyn sukkel, ook leerprobleme het; ’n derde van hulle is ook aandagafleibaar.

Dr. Elliot Shevel, ’n migraine-spesialis en die mediese direkteur van The Headache Clinic in Johannesburg, Durban en Kaapstad, sê navorsing toon swak tot gemiddelde prestasie is algemener onder kinders met hoofpyn. “Ons moet dieper kyk na swak prestasie. Dit is dalk ingewikkelder as wat ouers dink.”

Kry hulp

Moenie jou kinders se kopsere onbehandeld laat nie. Praat met jou kind oor die moontlikheid dat dit iets te doen het met een van die oorsake wat bo genoem is en besoek jou dokter sodat hulle ondersoek kan word. Besoek theheadacheclinic.net vir nog inligting.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.