Harry (28) was volgens gerugte “gebroke” nadat die sosiale vlinder (24) hul verhouding beëindig het omdat sy meen sy is te jonk om nes te skop. Maar dit lyk of die gerugte ongegrond was, want Harry het sedertdien op Sondag 23 Junie by die Kings Cross-stasie in Londen saam met Cressida van die trein af geklim. Die twee het Saterdag die troue van hul vriende Thomas van Straubenzee en Melissa Percy, die hertog van Northumberland se dogter, in Alnwick bygewoon. Harry en Cressida het afsonderlik daar aangekom, maar is saam daar weg. Harry en sy blonde metgesel het in ’n wagtende Range Rover geklouter nadat hulle van die trein af geklim het. Daar is die afgelope weke bespiegel die twee is uitmekaar nadat Harry glo op ’n braai met die model Cara Delevingne (20) flankeer het, maar dit blyk nou hulle vat dit maar net stadig.  ’n Bron het aan MailOnline gesê: “Cressida en Harry is baie danig met mekaar en vat dinge stap vir stap om te kyk of daar dalk eendag iets permanenter kan wees.” Harry en Cressida se name word romanties verbind sedert hulle verlede Julie in Londen saam gesien is by die première van The Dark Knight Rises.