Robert Pattinson is na bewering dolverlief op die Britse sangeres FKA Twigs.

Die Twilight-akteur (28) and sangeres (26) is onlangs saam gesien, wat gerugte van ’n romanse laat opvlam het.

FKA Twigs, gebore Tahliah Barnett, het haar debuutalbum vroeër vanjaar uitgereik.

“Tahliah dink hy is ongelooflik aantreklik,” het ’n bron aan Us Weekly verklap, en het ook bygevoeg die twee is al ’n paar weke saam.

’n Bron het aan The Sun gesê die paartjie is ernstig oor mekaar. “Dis die ware Jakob tussen Rob en Tahliah. Hulle kon tot onlangs hul verhouding geheim hou, maar hulle is dolverlief.”

Die akteur se eks is sy Twilight-medester Kristen Stewart. Hulle het tydens die fliekreeks se verfilming en bemarking uitgegaan, maar is in 2012 uitmekaar nadat foto’s opgeduik het waarin Kristen en die regisseur Rupert Sanders mekaar soen.

Die 28-jarige ster van Remember Me het in Julie vanjaar in ’n onderhoud met die Amerikaanse Esquire die eerste keer hart oopgemaak oor die situasie.

“Dié goed, nè? Dis net jong mense . . . dis normaal!” het hy aan die tydskrif gesê. “En eerlikwaar, wie gee om?”

Kristen het ’n verklaring uitgereik nadat die foto’s aanlyn verskyn het, waarin sy verskoning gevra het vir die “onbesonne oomblik wat die belangrikste ding in haar lewe in gedrang gebring het”.

Robert het nie destyds kommentaar oor die voorval gelewer nie en het sedertdien nie ’n slegte woord oor sy eks gerep nie.

“Die moeilikste deel was om agterna daaroor te praat, want as jy oor ander mense praat, raak dit hulle op maniere wat jy nie kan voorsien nie,” het hy aan Esquire verduidelik. “Dis soos daardie toneel in Doubt waar hy (Phillip Seymour Hoffman se karakter) praat oor hoe om skinderstories terug te trek? Dit is soos om vere uit ’n kussing in die lug te gooi en jy moet al die vere weer terugkry.”

Nadat hy met Kristen uitgemaak het, was hy deurmekaar met Katy Perry en Riley Keough.

© Cover Media