Of jy nou in Karma glo of nie, dit is duidelik drie skelms in Zimbabwe se geluk het lelik gedraai nadat hulle 'n ongelukstoneel beroof het pleks daarvan om die beseerdes te help.

[caption id="attachment_166771" align="alignnone" width="600"]Pastoor Charles Chiriseri en sy vrou, Petunia. Foto: Facebook, Apostle Charles Chiriseri Pastoor Charles Chiriseri en sy vrou, Petunia. Foto: Facebook, Apostle Charles Chiriseri[/caption]

Die drie mans het glo in September 2016 toegeslaan toe hulle op die ongelukstoneel van 'n pastoor afkom. Die pastoor, Charles Chiriseri, het van Bulawayo na Harare gereis toe hy uitgeswaai het om 'n kudde beeste in die pad te vermy en sy motor omgeslaan het.

Hy is opslag dood en sy vrou, Petunia, ernstig beseer. Pleks daarvan om Petunia te help, nooddienste in kennis te stel of vas te stel of Charles wel gesterf het, het die drie aanvallers die ongelukstoneel beroof.

Maar sedertdien is al drie in aparte voorvalle oorlede en nou gons dit in Zimbabwe dat dit dié drie se verdiende loon is.

Konstabel Mkhokheli Mpofu is die noodlot se jongste slagoffer en het die afgelope week gesterf toe 'n bestuurder nie by 'n padblokkade stilgehou het nie en hom raakgery het. Hy sou dié week in die hof verskyn op aanklagte dat hy geld uit die pastoor se beursie gesteel het.

Die ander dief, Forget Chikweya, het as busbestuurder gewerk en is November in 'n motorongeluk oorlede. Hy is daarvan aangekla dat hy die pastoor se slimfoon van die ongelukstoneel geneem het.

Honest Hleza, wat as brandweerman gewerk het, het glo die kerkman se skootrekenaar gesteel. Hy het ook in Desember verlede jaar verongeluk.

Die Zimbabwese koerant The Chronicle berig daar was tydens Hleza en Chikweya se ongelukke ander insittendes in die motors, maar dat Hleza en Chikweya die enigstes was om te sterf.

Twee ander mans is ook daarvan aangekla dat hulle Chiriseri se ongelukstoneel beroof het en sal na verwagting hierdie week in die hof verskyn.