Dis “prinses Charlotte”! Die marknavorsingsmaatskappy het ’n peiling gedoen om vas te stel hoe die Britse publiek dink prins George se jonger boetie of sussie gaan lyk. Hulle het ’n rekenaarbeeld op die peiling se uitkoms gebaseer.

Meer as twee derdes van respondente glo Kate gaan die lewe aan ’n dogtertjie skenk, en dis ook hoe sake staan by die beroepswedders. Die jongste syfers dui daarop dat 90 persent van alle weddenskappe oor die baba se geslag ten gunste van die skoner geslag is.

In die ResearchBod-opname lyk dit asof meer as die helfte dink dis ’n klein “prinses Charlotte” – die gunstelingnaam, en dat sy bruin hare en blou oë gaan hê.

Dit lyk of die uitslag van die opname die wedsyfer van 3/1 vir die naam Alice, waarop die meeste gewed is, weerspreek. Dié naam het in die opname maar derde gekom.

Victoria, Alexandra en Elizabeth was onderskeidelik tweede, vierde en vyfde. Die topseunsname was James, gevolg deur Henry, Philip, Arthur en Albert.

Daar word gemeen dat Kate se verwagte bevallingsdatum binnekort kan wees (trouens, dit kon al gewees het). Sy gaan tans tuis in Kensington-paleis, ’n paar kilometer vanaf die hospitaal van haar keuse – die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, waar sy in 2013 die lewe aan prins George geskenk het.