Die Amerikaner Roman Atwood (32) se video van waar hy kamtig hul kind opblaas, het al meer as sewe miljoen kykslae gehad sedert hy die Sondag op YouTube gelaai het.

Die greep wys hoe Roman ’n vierwielmotorfiets saam met een van sy twee seuns, Kane, toets. Hy praat dan met sy lewensmaat, Brittney Smith, voor hy besluit om die motorfiets te koop.

Kykers sien dan hoe Roman vir Kane sê om weg te kruip terwyl Brittney na die motor toe stap om ’n tjek te gaan haal.

Hy sit dan vinnig ’n ewebeeld-pop met dieselfde klere as Kane aan op die motorfiets.

Wanneer Brittney terugkeer, lyk dit of Roman beheer verloor oor die motorfiets wat met ’n afstandbeheerder werk. Die motorfiets rits weg met die pop op die sitplek, ry teen ’n rand af en slaan aan die brand.

‘n Geskokte Brittney hardloop en gil haar seun se naam, want sy dink hy is in die vuurbol.

Sy besef eers dit is ’n poets toe sy die toneel van die ontploffing nader en die pop sien.

Party YouTube-kykers noem die poets “die snaakste ding ooit”, terwyl ander sê dit was “sadisties”.

DIE VIDEO KAN SOMMIGE KYKERS ONTSTEL