Dit lyk asof Liam Hemsworth en Miley Cyrus se wisselvallige verhouding weer af is.

’n Mens se kop draai al soos dié tweetjies se verhouding sedert hul verlowing verlede Mei nou aan en dan weer af is.

Hul jongste probleme het op die lappe gekom nadat Miley (20) opgehou het om Liam op Twitter te volg. Hoewel Liam nog vir Miley op die gewilde aanlyn kuierplek volg, is die sangeres van We Can’t Stop nie meer een van haar soms en som nie verloofde se volgelinge daarop nie.

Die paartjie is nog nie weer saam gesien sedert hul verskyning op die rooi tapyt by die première van Liam se fliek Paranoia in Augustus nie. Daar is ook bewerings Liam verkul sy verloofde. Hy het glo in ’n nagklub in Toronto by iemand aangelê, ’n klub in die geselskap van ’n onbekende meisie verlaat en in SMS’e flankeer met die Mad Men-aktrise, January Jones.

Dat hulle beslis probleme het, kan ’n mens aan hul gedurige uitmakery sien. Tog is die jong popster ongelukkig oor die gerugte. “Dis jammer dat hierdie gerugte nie end kry nie, want hul verhouding is reeds so wankelrig,” het ’n bron eksklusief aan HollywoodLife.com gesê. “Miley wil nie glo Liam verkul haar nie, maar hulle is so dikwels nie by mekaar nie en baklei so baie, dis vir haar moeilik is om te weet wat om te glo.”

Nog ’n bron het onlangs gesê Liam soek na ’n maklike manier om hul verhouding te beëindig, aangesien hy moeg is vir Miley se gedrag. “Hulle kan binne enkele weke vir goed uitmaak. Liam voel deesdae emosioneel verwyder van Miley.”

Is dit die einde vir die twee jong sterre? Of dalk ’n publisiteitsfoefie van Miley se span om simpatie op te wek vir haar nuwe liedjie Wrecking Ball, wat gaan oor ’n vernietigende verhouding?

Deur Faiza Mallick

Bronne: Channel24.co.za; hollywoodlife.com