Op haar troue het Valerie Tellman-Henning, ’n ballerina van Virginia in die VSA, die wonderlikste verrassingsgeskenk van haar man gekry: die strooijonkers het agt minute lank op die maat van ’n klomp popliedjies ’n gechoreografeerde dans uitgevoer.

Volgens Valerie het sy haar man, die beroepsdanser Kirke Henning, bly vra oor hul bruilofsdans. “Toe ons begin het om die troue te beplan, het ek vir hom gesê: ‘Wel, ek hoop jy sorg dat jou strooijonkers vir my dans.’”

Kirke moes ’n paar noodleuens vertel sodat die skouspel ’n geheim kon bly. Vir Valerie het hy glo gesê “dit gaan eenvoudig nie gebeur nie”. ’n Video van die dans is op YouTube gelaai en daar is reeds byna 800 000 keer daarna gekyk.

Dit begin waar Kirke en sy strooijonkers hul posisies inneem terwyl die gewilde Uptown Funk begin speel. Die groep, in aandpakke geklee, gly dan op die maat van ’n keur treffers oor die baan – tot Valerie se groot genot.

Volgens Kirke is net vier van die strooijonkers beroepsdansers, alhoewel ’n mens nooit sou kon raai wie hulle is nie, want die dansbewegings word presies gelyk uitgevoer. Kirke het gesê: “My broer het twee linkervoete en hy het net een keer geoefen.”

Die verrassing, waaraan hy vier maande voor die troue begin beplan het, was beslis ’n ongeëwenaarde sukses. “Valerie het van niks geweet nie. Soos jy kan sien, was haar reaksie só oulik,” het Ginger Topham, die paartjie se troufotograaf, gesê. “Almal was eenvoudig uit die veld geslaan.”

Bronne: dailymail.co.uk, richmond.com