Meer as vyf biljoen pizzas word glo jaarliks wêreldwyd verkoop en derhonderde snye word elke sekond êrens op die planeet verorber.

Die pizzakultuur het selfs al bykomstighede opgelewer soos die Portable Pizza Pouch, waarmee jy ’n kaasbelaaide happie om jou nek kan dra. (Gaan kyk maar self aanlyn by plekke soos Stupidiotic). Ja, pizzas is supergewilde, bekostigbare smulgoed . . . en min ander geregte leen hulle so tot oordaad, eksperimentering en bloot pure malligheid. Hier’s ’n paar voorbeelde van die uitspattigste en vreemdste pizzas wat kitskosplekke al opgetower het: Pizza in ’n eetbare boks  Die geesteskind van Vinnie’s Pizza in Brooklyn, New York. En as jy nie kans sien vir die hele meneer nie, kan jy ook ’n lekker stewige sny in sy eie eetbare boksie wegneem.

Hoe lyk dit met ’n stukkie hoender? Een Brasiliaanse restaurant het al glad vir die grap ’n krat bier as pizzalaag ingespan. [caption id="attachment_126244" align="aligncenter" width="600"]Foto: Reddit. Foto: Reddit.[/caption] Maar hul nommer met ’n hele geroosterde hoender bo-op, gewis meer prakties, sal waarskynlik groter aftrek kry. [caption id="attachment_126243" align="aligncenter" width="600"]Foto: Redit. Foto: Redit.[/caption] Double Sensation  ’n Formidable skepping van Pizza Hut in Singapoer. Die buitenste ring van die pizzakors is die ene mozzarella, cheddar en parmesaan, ’n tweede ring is belaai met van kaas en rissies tot salsa, sampioene en kalkoenham . . . en dan’s daar nog gerookte hoender, alfredosous en hoenderworsies (gevul met kaas) in die middel.

Cheeseburger Crown Crust Pizza Pizza Hut in die Midde-Ooste se gedugte nommer het ’n kors van mini-kaasburgers en is bedek met fyn biefstuk en ’n geheime sous, kaas, blaarslaai, tamaties en uie. Dit kan straks ’n honger maag laat grom, maar kosskrywers het dit ook al bestempel as ’n “pizza-eksperiment wat verskriklik skeefgeloop het”.
Aussies se “liefdeskind”  Four’N Twenty-vleispasteie is ’n groot treffer Doer Onder, veral by sportbyeenkomste. Toe kry hulle mos die blink gedagte om hulle in pizzas in te werk, vir wat adverteerders “Australia’s favourite lovechild” gedoop het. Elke sny pizza is gevul met ’n mini-pastei, kompleet met sy eie blerts tamatiesous.
Nog twee in een  Foodbeast in Amerika het twee groot gunstelinge daar saamgeflans: pizza en Big Macs. Hulle het pizzadeeg met ’n spesiale McDonald’s-sous bedek, gevolg deur hamburger-frikadelle, kaas, nog sous en uie. En dan nog deeg en fyngedrukte frikadelle, slaptjips en sous, voor die spul met sesamsaad besprinkel en in die oond gestop word.
Piesangkerrie-pizza Soet en sout, soos met die oral bekende Hawaise pizza, word ook in dié Stockholm-gunsteling gekombineer, maar die kerriepoeier is nogal ’n nuwe kinkel.
Full English Breakfast Pizza Tipies Britse humor . . . by onder meer American Pizza, ’n uithangplek in Liverpool, kry jy spek, eiers, wors, sousboontjies, sampioene en selfs black pudding op jou pizza.
Grand Prix Cookie Crust Pizza  Mr Pizza in Suid-Korea se garnaal-en-patat-gunsteling het ’n kors gevul met koekiedeeg en word met bloubessiedoopsous voorgesit.
Wallaby-pizza  Sydney se Australian Heritage Hotel het pizzas genaamd Pepper Kangeroo, BBQ Emu en Saltwater Crocodile op die spyskaart.
Russiese visfees  Moskou se Mockba-pizza spog met sardyne, tuna, makriel en salm, gegarneer met uie en kruie – en word koud voorgesit.
Finse treffer  Hulle maak ’n Pizza Berlusconi met gerookte rendier, sampioene en uie.
Louter opwinding  Domino’s in Japan sit ’n pizza voor met aartappels en warm mayonnaise daarop. Van tjips gepraat . . . Crazy Pedro’s in Manchester se Dirty Northerner is pure eenvoud dog ’n moewiese treffer: ’n kaaspizza met ’n hoop slaptjips en bruinsous bo-op.
Iets vir ’n suikertand: Dieselfde ouens het in ’n oomblik van waansin die Cadbury Crème Egg Pizza uitgedink, ’n soort poedingpizza met onder meer sjokoladesous, malvalekkers en ’n bruintjiemengsel.
. . . en beslis nie vir almal nie: Besonderhede is skaars, maar in Japan, waar die gogga-eet-beweging vir alternatiewe proteïenvorme blykbaar redelik vastrapplek gekry het, is onder meer larwe, motte en waterinsekte al glo op pizzas by gogga-eet-partytjies in Tokio voorgesit.

Lus vir regte, egte pizza? KLIK HIER vir heerlike resepte uit ons toetskombuis.

Bronne: msn.com, thedailymeal.com, huffingtonpost.com, imgur.com, dailymail.co.uk,