Nou het die regering met 'n blink plan vorendag gekom om die lang toue verkeer wat soggens en saans die Moederstad betree, hok te slaan: fleksi-ure waar sommige werknemers se werkdag vroeër of later as die gewone nege-tot-vyf-werkdag begin, maar ook vroeër of later eindig.

"Meer Kapenaars as ooit tevore besit motors. Weens die groeiende bevolking bring party inwoners tot drie uur per dag op die pad deur wanneer hulle in spitsverkeer moet bestuur," het die burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Brett Herron, gesê.

Daar is juis in Augustus vanjaar bekendgemaak dat Kaapstad met die kwaaiste verkeer in Suid-Afrika sit en boonop 47ste ter wêreld is van stede waar verkeer 'n probleem is.

"Die tradisionele, onbuigbare werkure wat van negeuur soggens tot vyfuur smiddae strek, beteken ook verkeer hoop op omdat soveel inwoners gelyk na sakekerns moet reis."

Die stadsraad wil begin deur moontlikhede te ondersoek om hul eie werknemers fleksi-ure te laat werk of hulle toe te laat om vanaf satellietkantore buite sakekerns te werk. Dit is glo ook 'n opsie om werknemers toe te laat om tydens spitsverkeer van die huis af te werk sodat hulle tydens stiller tye werk toe en terug kan ry.

"Dis alles voorstelle wat ons nou wil ondersoek en gebruik indien dit werkbaar is."

Die beplande oplossing staan bekend as die Travel Demand Management Strategy (TDMS) en inwoners het nou tot 28 Oktober geleentheid om hul insette te lewer oor of hulle dink die beplande oplossing sinvol is.

In die buiteland is fleksi-ure reeds 'n paar jaar 'n gewilde konsep, nie net om verkeer te verlig nie, maar ook om werknemers meer vryheid te gun om hul tyd te bestuur. Dis veral nuttig vir werkende ouers of werknemers met ander verpligtings buite die werkplek.

Swansea, aan die kus van Wallis, het byvoorbeeld 'n beleid waar staatsamptenare net tussen 10:00 en 12:00 en tussen 14:00 en 15:00 op kantoor moet wees. Die res van die ure - van 07:30 tot 10:00 soggens, van 12:00 tot 14:00 smiddae en van 15:00 tot 18:30 saans - kan daar gewerk word soos dit die werknemers pas, solank elkeen net hul voorgeskrewe sewe uur en 24 minute elke dag werk.

Die stad Calgary in Kanada het selfs 'n beleid waar werknemers hul werk mag “saampers” sodat hulle byvoorbeeld al hulle take binne vier dae afhandel en 'n ekstra dag af is elke week. En in 2014 is in 'n studie deur Stanford-universiteit in Amerika bevind werknemers wat van die huis of 'n plek weg van die kantoor af werk, kry tot 13,5 persent meer gedoen as hul kantoorgebonde kollegas.

Nou toe nou, Kapenaars, julle beter gaan stem!