Die Duitse dagblad Bild en die Franse tydskrif Paris Match berig die video is gekry op ’n geheueskyfie wat moontlik van ’n selfoon afkomstig is.

VolgensParis Match het “ ’n bron ná aan die ondersoek” die materiaal “tussen die wrakkstukke” gekry.

Lt. kol. Jean-Marc Menichini, ’n hoë amptenaar wat by die herwinningsoperasie betrokke is, het kategories ontken dat ondersoekers enige selfoonmateriaal op die toneel gevind het.

Paris Match berig “jy kan gille van ‘My God’ in verskeie tale hoor” en ’n metaalagtige gekap, dalk van die vlieënier wat die deur van die stuurkajuit met ’n swaar voorwerp probeer oopbreek. Die koerant sê die gekree vererger teen die einde ná ’n hewige geskud.

Die video eindig glo wanneer die vliegtuig ’n berg skrams tref, sê Bild.

Die koerant voeg by “al is die toneel aan boord chaoties en heeltemal bewerig, en kan geen individu geïdentifiseer word nie, is die video bo verdenking.”

Die verstommende ontwikkeling kom nadat Lufthansa onthul het die medevlieënier van die Germanwings-straler het die lugredery reeds in 2009 ingelig hy het voorheen aan ernstige depressie gely.

Germanwings se moederlugredery sê dokumente is aan aanklaers oorhandig, onder meer e-posse van Andreas Lubitz aan sy vlieginstrukteurs.

“In die korrespondensie lig hy die Flight Training Pilot School in 2009 in . . . oor ’n ‘vorige episode van ernstige depressie’,” luidens ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is.

Bronne: CNN, News.com.au, Daily Mirror