“Daar is beslis iets; ons moet net uitwerk wat dit is," het hy gesê.

Nádine het egter volgehou hulle is vriende. “Die punt is: Ons is vriende. Jy wil net vir my ’n date soek, Rian,” het die sangeres gesê aan die aanbieder, Rian van Heerden.

Kort ná Derick se uitspraak het Nádine voorgestel hulle moet die voormalige rugbyspeler op ’n afspraak stuur.

“Kom ons maak die lyne oop en reël vir hom ’n date,” het sy gesê.

Dié gesprek is voorafgegaan deur Rian wat sê daar is allerhande gerugte dat Nádine en Derick verloof is. Sy het geantwoord hulle is nie verloof nie, waarop Rian laat hoor het: “Maar daar is iets.”

Nádine het gesê sy het ’n paar goeie vriende – nie net een nie – maar om die een of ander rede het haar vriendskap met Derick die aandag getrek.

Toe Rian reguit vra wat aangaan en of ’n verhouding kom, het Nádine die onderwerp verander deur te sê sy het die oggend op pad soontoe gedink sy gaan vir Rian koebaai sê.

Hy verlaat die program aan die einde van die maand. Martin Bester en Tumi Morake neem die leisels by hom oor.

“As ons ’n couple was, sou ek dit vandag eerste met jou wou gedeel het,” het Nádine gesê.


Dit is op dié stelling wat Derick laat hoor het daar is gewis iets. En ná Nádine se reaksie dat Rian vir haar ’n date wou soek, het Derick laat hoor: “Sy het rêrig nie hulp nodig nie.”

Mense het uiteenlopend reageer op die program se Facebook-blad, maar die meeste dink hulle sal ’n mooi paartjie wees.

Kyk hier na die video

Bron: Jacaranda FM