"Die beste gevoel in enige verhouding is wanneer jy besef jy kan die persoon met jou lewe vertrou," skryf hy in ’n onlangse twiet.

Huigenoot het vroeër berig dat Derick en Nádine mekaar by ’n spa in Lynnwood ontmoet en so lekker gesels dat hulle daarna gaan koffie drink het.

Die tonge het begin klap toe Derick se Twitter-profiel oorheers word deur twiets van Nádine wat hy aanhoudend deel.

Hy het onlangs weer ’n paar twiets van haar gedeel en selfs op een twiet reageer.

'n Twiet wat Derick gedeel het.

"Hier is ons nou tussen gister en môre met minder as niks van een van die twee, behalwe die wete dat ons mekaar ryk maak met ink en woorde, fluister en skree," het die sprankelende sangeres in die sosiale media geskryf. 

Waarop Derick antwoord, "dan is ek baie bly ek is nie deel van gister nie."

"Wanneer jy jouself in ’n verhouding bevind waar daar geen uitgangsteken is nie. Dan weet jy, jy het die regte een gevind. En moet haar nooit laat gaan nie," het hy ook getwiet.

Die twee hou egter vol dat hulle nie in ’n verhouding is nie.

Sedertien het Derick op The Complimentary Breakfast, Jacaranda FM se ontbytprogram, gesê daar is beslis iets, maar hulle moet net uitwerk wat dit is.

Nádine het egter op dieselfde ontbytprogram, volgehou hulle is vriende. “Die punt is: Ons is vriende," het sy aan Rian van Heerden gesê.

Nádine en haar bestuurder, die Belg Hugo Foets, het verlede jaar, ná ’n langafstandverhouding van agt en ’n half jaar, besluit om mekaar ruimte te gee. 

Sedert hul verhouding op die rotse geloop het, was sy nog nie gereed om weer aan ’n verhouding te dink nie, het sy vroeër aan Huisgenoot gesê.