Dr. Michael Mol van die plaaslike TV-program Hello Doctor het onlangs in ’n twiet gesê tieners wat in die verlede al harsingskudding gehad het, se kans om aan depressie te ly is drie keer so groot as ander kinders. Die program se hoof mediese beampte, dr. Russell Thomson, stem saam. “Dis  wêreldwyd algemene kennis onder dokters,” sê hy. “Dis nie duidelik hoekom nie, maar ons vermoed dit het te doen met breinbesering of -inflammasie.”

Al is daar nie ’n studie om hierdie idee te ondersteun nie, verduidelik hy mediese praktisyns glo sowat ’n tiende van tieners ontwikkel ná harsingskudding depressie. Hy vermoed tienerseuns is vatbaarder vir harsingskudding as meisies, want hulle is meer betrokke by kontaksport.

Volgens die Suid-Afrikaanse depressie- en angsgroep (Sadag) word geestesongesteldhede by meer as die helfte van jeugdiges wat dit het nie gediagnoseer nie. Dit is dus moeilik om die regte behandeling te kry. Ongediagnoseerde harsingskudding kan nie net tot depressie lei nie, maar ook tot breinskade en permanente gestremdheid.

Harsingskudding  verander tydelik die breinfunksionaliteit, en die meeste tieners kan (afhangend van die graad van die harsingskudding) binne ’n week of twee volkome herstel. Dr. Thomson waarsku egter dat kinders met harsingskudding versigtig gemonitor moet word en altyd behandeling van ’n mediese praktisyn moet ontvang. So kan langtermyngesondheidsprobleme vermy word.

Ma’s moet kyk na dié tekens:

Toenemende lomerigheid.

Hoofpyn.

Verwardheid.

Slaapprobleme.

Probleme met koördinasie of balans.

Naarheid en braking.

Stuipe.

Duiseligheid.

Konsentrasieprobleme.

Sigprobleme.

Praat moeilik.

Geheueprobleme.

Maar hoe kan ma’s onderskei tussen tipiese tienergedrag en depressie? Volgens Sadag sluit simptome van depressie die volgende in:

’n Gebrek aan slaap of te veel slaap.

Verloor belangstelling in daaglikse aktiwiteite of stokperdjies.

Moegheid of ’n gebrek aan energie.

Voel gedurig ongelukkig of angstig.

Rebelse gedrag.

Voel hulpeloos of vrotsig.

Sukkel met konsentreer en onthou.

Huil gedurig.

Aanhoudende kwale soos hoofpyn of spysverteringsprobleme.

Selfdoodgedagtes.

Swak eetlus of ooreet.

Hier’s hulp

As jy vermoed jou kind ly aan depressie, kontak Sadag by 0800-21-22-23 of 0800-567-567 of SMS 31393.

- Koketso Mashika

Ekstra bronne: sagad.org, kidshealth.org.

Foto’s: sxc.hu