Een van die destydse kletsprogram Maak ’n Las se vervaardigers is Donderdagaand dood.

Gert van der Walt het homself Donderdagaand in sy huis in Pretoria geskiet, berig Netwerk24.

Sy vrou, Maryna, was glo tydens die voorval by die huis.

Leon Beukes, wat saam met Gert aan Maak ’n Las gewerk het en deesdae in die Paarl woon, sê Gert was ’n dinamiese mens.

“Hy het ons baie geïnspireer as storie-verteller. Hy was baie lief vir stories vertel, selfs al het hy dit nooit op televisie gedoen nie,” sê Leon. Hy sê hy het sowat twee weke gelede nog met Gert gepraat, maar hy het hom lanklaas “in persoon” gesien.

“Maak ’n Las is lankal nie meer nie, so ons het nie meer so dikwels kontak gehad nie. Maar ek onthou om as ’n positiewe mens, ’n man met ’n plan wat altyd daar was vir ons.”

Hy beskryf Gert se dood as ’n “geweldige skok”. “Ek weet nie waarom, of wat die probleem was nie.”

Oor die afgelope paar jaar is talle van Maak ’n Las se medewerkers dood en Beeld het in 2009 al verwys na die “Maak ’n Las-vloek”.

Worsie Visser (35) sterf in 1998 in ’n vliegtuigongeluk. Die storieverteller Tolla van der Merwe (56) en Ollie Viljoen se vrou, Estelle (56), sterf in 2000 in ’n motorongeluk naby Middelburg. ?Koos Meyer (79), die storieverteller wat in dieselfde ongeluk ernstig beseer is, sterf later in die Wilgers-hospitaal in Pretoria aan sy beserings.

Die skrywer en storieverteller Pieter Pieterse (65) word in 2002 in Marlothpark vermoor.

Deon van Zyl, ’n gaskunstenaar en die skrywer van Koos Meyer se biografie, sterf in 2006 in Centurion ná ’n hartoperasie.

Andries Krogman en Pyp de Villiers is ook al dood. Andries se vrou, Marcelle, is dood ná sy erge brandwonde opgedoen het. En Leon se vrou, Elize, het ook haar eie lewe geneem ná ’n stryd met kanker.

Maar oor dié “vloek” waarna daar so dikwels verwys word, sê Leon net dat dit sommer nonsens is.

“Dit is net ’n stigma. As jy kyk na die volume mense wat oor die jare aan Maak ’n Las gewerk het, is dit ’n geweldige klomp mense. Om alles te verbind met Maak ’n Las...? Dit (mense wat iets oorkom) gebeur in die breë spektrum.”

Hy meen die vewysing na een of ander “vloek” is sommer net “een of ander sensasie-ding”.

Gert het Maandag op Facebook ’n grappie gemaak oor die Springbokke en die #FeesMustFall-betogings. “Ietsie vir hierdie droewige week,” het geskryf.

Hy het dikwels op Facebook kommentaar gelewer oor nuusgebeure en sake van die land.