Die manne in groen en goud durf die Engelse span aan om 16:30.

Die negatiewe uitkyk kom ten spyte van die feit dat die Bokke laas in 2006 teen Engeland verloor het. In die laaste 12 toetse tussen dié twee spanne, het die Bokke 11 wedstryde gewen en een gelykop gespeel.

Die voormalige Boksenter Hennie le Roux meen as die Engelse ooit die geleentheid gehad het om die Bokke te klop, is dit nou.

"Die agteruitgang in Suid-Afrikaanse rugby is kommerwekkend," voel hy.

Hennie was deel van die wenspan van die 1995 Wêreldbeker. Volgens hom is die Bokspan destyds afgerig deur gesoute afrigters en hulpafrigters wat op hul beste presteer het.

“As die afrigterspan nie daardie ervaring en agtergrond het nie, kan daar geen agting vanaf die spelers vir die bestuurspan wees nie,” meen hy. “Dit plaas Suid-Afrika in ’n baie kwesbare posisie voor vanmiddag se toets teen Engeland.”

In die laaste toets wat die Bokke gespeel het verlede maand teen die All Blacks in Durban, is die Suid-Afrikaners afgeransel met ’n rekordnederlaag van 15-57.