Suid-Afrika het egter nie ’n hoë risiko vir sulke aanvalle nie en mense moenie te meegevoer raak daardeur nie, het die uitvoerende direkteur Jakkie Cilliers gesê.

“Die Amerikaners sou nie die waarskuwing uitgereik het as hulle nie inligting daaroor gehad het nie. Dis baie skadelik vir Suid-Afrika.”

Die Amerikaanse diplomatieke sending na Suid-Afrika het Dinsdag Amerikaanse burgers gewaarsku dat ekstremiste die land se regerings- en sakebelange in Suid-Afrika kan teiken. Amerika het “spesifieke, geloofwaardige inligting oor terreurbedreiging ontvang”, het Cynthia Harvey in ’n verklaring gesê.

Jakkie het gesê moontlike teikens kan wissel van Amerikaanse ambassades, organisasies soos USAid, ondernemings soos McDonald’s en die konstruksie-masjineriemaatskappy Caterpillar.

Groepe wat dalk Amerikaanse belange hier sou wou teiken, sluit in die Somaliese Islamitiese groep Al-Sjabaab, die Islamitiese Staat (IS) en moontlik Boko Haram, wat in die noordooste van Nigerië gebaseer is.

Dis “waarskynliker” dat dit Al-Sjabaab sou wees weens die groot Somaliese gemeenskap in Suid-Afrika en dis “onwaarskynlik” dat dit Boko Harma sou wees. “Maar ’n mens weet nie.”

Cynthia wou nie verklap vanwaar die bedreiging gekom het nie. Sodanige veiligheidswaarskuwings is nie ’n weerspieëling van bilaterale verhoudings met ander lande nie, het sy gesê. “Dis deel van ons verbintenis om Amerikaanse burgers wat oorsee reis en woon, te beskerm.”