Asof 2016 nog nie genoeg bekendes sien sterf het nie, wou dit in die doodsnikke van die jaar voorkom asof nóg ’n geliefde sangeres omgekom het.

Die internasionale musiekagentskap Sony Music moes Maandag bontstaan nadat kuberkrakers glo toegang tot hul Twitter-rekening -- met meer as 600 000 volgelinge -- gekry het en getweet het dat die superster Britney Spears oorlede is.

Die rits tweets is kort daarna verwyder, maar die gort was gaar; pandemonium het losgebars met elke Jan Rap en sy maat wat dink die Oops!...I Did It Again-sangeres het 2016 se nuutste slagoffer geword.

via GIPHY

Die eerste tweet wat die krakers gestuur het, het eenvoudig gelees: "Rus in vrede, @Britneyspears #RIP 1981-2016" en is kort daarna opgevolg met ’n ietwat meer bisarre een wat lui: "Britney Spears is dood in ’n ongeluk! Ons sal julle binnekort meer sê #RIPBritney".

Albei tweets is binne enkele minute meer as 6000 keer gedeel. Maar spitsvondige internetgebruikers het gou lont geruik en besef daar steek geen waarheid in hierdie "nuus" van die superster se dood nie.

Die musiekgroep het self veertig minute later gereageer met ’n tweet wat sê hul rekening is gekraak en dat Britney wel springlewendig en gesond is. Volgens The Hollywood Reporter het Sony Music deurgeloop onder dieselfde groep kuberkrakers wat onlangs die Twitter-rekeninge van Marvel en Netflix geteiken het. Indien jy steeds twyfel of dit goed gaan met Britney, hier is ’n video wat sy enkele ure gelede op Instagram gedeel het waarin sy en haar seuns op Kersdag gaan jag het:

Some good hunting and zip lining for the holidays! Merry Christmas!! ?

A video posted by Britney Spears (@britneyspears) on

Mag jy nog lank lewe, Britney!