Eyewitness News berig die Wes-Kaapse polisie ondersoek ’n saak van huisbraak nadat daar Saterdag spesifiek by die Stellenbosse eenheid vir ernstige en geweldsmisdade ingebreek is en die skootrekenaar en dokumente gesteel is.

Die rekenaar, wat glo belangrike inligting oor die aanval bevat, behoort aan ’n senior ondersoekbeampte in die De Zalze-moorde.

Dit is vandag, 27 Mei, presies vier maande ná die driedubbele moord op Martin, Teresa en hul oudste seun, Rudi. Niemand is nog weens die voorval in hegtenis geneem nie.

’n Polisiewoordvoerder, André Traut, het bevestig dat die rekenaar gesteel is, maar wou nie sê of die De Zalze-dossier en ander lêers wat met die bylmoorde verband hou, ook vermis word nie.

Die polisie is nog besig om presies vas te stel wat gesteel is.

Bron: EyeWitness News