Daar was omtrent ’n mediadrama toe dit gelyk het of William nie saam met Catherine en sy eersteling voor die hospitaal wou poseer nie.

Dit is nou al dag 16 van die babawaak – dis nou as jy reeds van 1 Julie af slaggereed was vir baba Cambridge se aankoms.

EK’T saggies gegiggel toe die wêreldmedia reeds op 1 Julie voor die Lindo-vleuel in Londen begin uitkamp het, maar vir TV-netwerke soos CNN, NBC of SkyNews is elke sentimeter plek op die sypaadjie regoor die ingang van die privaat Lindo-vleuel kosbaar.

Ek verkyk my aan die foto’s van die perskamp en hoe daar met maskeerband duidelik afgemerk is watter deel van die sypaadjie nou watter TV-netwerk se plekkie is! En almal het trapleertjies – ek hoop regtig iemand neem ’n foto van die perspak wanneer hulle almal op hul leertjies staan met hul lense gerig op die Cambridges! Van die fotograwe wat uitkamp, het reeds op Twitter foto’s gedeel van hoe hulle desjare terug ook uitgekamp het vir William, Harry en selfs prinses Beatrice se geboorte.

Daar was ook so ’n effense beroering onder ons groepie koninklike Twitter-vriende toe daar vir ’n minuut of twee onduidelikheid was oor of William aan die tradisionele fotogeleentheid sou wou deelneem.

Gelukkig het Victoria Arbiter, ’n gerekende koninklike korrespondent wat onder meer vir CNN verslag doen en wie se pa, Dickie, jare lank die koningin se perssekretaris was, ons almal vinnig tot bedaring gebring.

Ja, William sal met Catherine en baba C op die trappies staan en vir foto’s poseer, maar dan terugdraai en die hospitaal instap omdat hy glo self sy vrou en eersteling huis toe wil bestuur! Met die baba ewe in ’n babastoeltjie en hul lyfwagte in hul motors voor en agter William se motor. William kan dalk selfs soos sy pa destyds met sy geboorte vinnig ’n woordjie of twee met van die wagtende perskorps deel.

Waarheen die Cambridges ná die bevalling gaan is nog onduidelik. Of huis toe nou Kensington-paleis sal wees (hulle woon nog in die ietwat knap Nottingham-kothuis, aangesien die werk aan Eenheid 1A nog nie afgehandel is nie), Balmoral (die koningin het hulle mos genooi om daar te kom vakansie hou), Anglesey (hul tuiste in Wallis) of Bucklebury, weet nugter. My geld is op Bucklebury, al kla Ken Wharfe, een van prinses Diana se geliefde lyfwagte, dat die baba nie genoeg beskerming by die Middletons se tuiste sal kan kry nie. Soos hy self sê, dit was ’n ander wêreld toe Charles en Diana 31 jaar gelede met klein William huis toe is . . .

Maar ek dink daar sal geen beter plek vir die Cambridges wees as om by oupa en ouma Middleton te gaan nesskop nie. Of Catherine regtig ses weke lank by haar ouers sal bly ná die bevalling weet ek ook nie. William kry net twee weke vaderskapverlof, en ek kan nie dink dat hy sy vrou en eersteling by haar ouers sal los om sy werk te hervat nie. Natuurlik sal Catherine en baba C saam terug Anglesey toe.

Maar voor die Cambridges koers na enige plek toe kan kies, sit ek nog en tel die dae af, en af, en af.

Selfs ouma Camilla sê almal hoop dat die klein bondeltjie vreugde sy of haar verskyning teen einde vandeesweek sal maak! Eers einde vandeesweek? wil ek vra.

Dié kleinding is voorwaar stylvol laat, of soos ’n mens nou in propperse Engelse sal sê: fashionably late.

En dan dink ek. Wag, wag, wag. Is Sy Koninklike Hoogheid (naam), die prins van Cambridge, of Haar Koninklike Hoogheid (naam), die prinses van Cambridge, regtig laat? Kan ’n mens laat wees as ons nie eens presies weet wat die dag van aankoms moet wees nie?

Of is ons net so opgewonde dat ons nie meer kan wag nie?

- Arlene Prinsloo

Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus.

LEES OOK:

Baba C gaan luid verwelkom word . . .

Harde werk tot Baba C opdaag!

Laaste sien van Catherine? 

Wie weet?

Dit is amptelik Julie, baba C se geboortemaand!