Die polisie het op die hoewe van die moordverdagte in die Anika Smit-saak toegeslaan op soek na die “spesiale plekkie” waarvan hy glo iemand in die selle van die Pretoria-Noord-polisiekantoor vertel het.

Anika (17), wat ten tyde van haar dood ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Gerrit Maritz was, is in Maart 2010 in haar pa, Johan, se huis verkrag en vermoor toe sy die dag met oorontsteking by die huis was. Haar hande is afgekap, maar nooit gevind nie.

André van Wyk (24), beter bekend as Smiley, se selmaat het ’n verklaring oor die beweerde plek aan die polisie gemaak.

Huisgenoot het verneem die polisie, onder wie die ondersoekbeampte, lt.kol. Mike van Aardt, se soektog op die hoewe het egter nie die 17-jarige vermoorde en geskende tiener se hande of enigsins iets van belang opgelewer toe hulle verlede Donderdag by Van Wyk se blyplek was nie.

Die polisie het in die teenwoordigheid van Smiley se ouers, Jan (45) en Judie (43), die hoewe naby Onderstepoort gefynkam.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Smiley se regsverteenwoordiger, en ’n polisiebron het die inligting bevestig.

“Ons wil lt.kol Van Aardt bedank dat hy elke moontlike leidraad opvolg. Dit is ook kardinaal in ons saak om André se onskuld te bewys,” het sy advokaat gesê. Toe Smiley homself in September vanjaar aan die polisie oorgee, het dit gegons dat die raaiselagtige moord eindelik opgelos gaan word. Sy ouerhuis en slaapkamer is toe reeds gefynkam.

Huisgenoot het in November 2016 eksklusief met Smiley se ouers gepraat wat volstrek glo hul saggeaarde seun was nie in staat om so ’n gru-daad te pleeg nie.

Anika se ma in 2010: ‘My kind se hande afgekap’

Vir Anika se ma, Charlotte Eksteen, was die April-skoolvakansie van 2010 net om die draai. Sy wou nog soveel vir haar dogter doen. Anika sou na haar ma gaan vir die vakansie. Charlotte het ekstra bottels vrugte en groente ingelê, Anika se slaapkamer reggekry en die dae afgetel.

Op ’n Woensdagoggend twee weke voor die vakansie tel Charlotte Eksteen toe die telefoon op en bel haar dogter, op die ingewing van die oomblik. Negeuur op ’n skoologgend en in skooltyd; gewoonlik sou sy dit nooit doen nie, maar sy het sommer net ’n kans gewaag. Hoekom, sê sy vandag, weet sy steeds nie.

En heel toevallig was haar 18-jarige Anika die oggend by die huis met ’n oorinfeksie. Ma en dogter het toe lekker gesels en Anika kon nog ’n laaste versoek insit: “Ma, onthou om vir my ’n ekstragroot bottel beetslaai in te lê!”

Maar die kuier het toe nooit gebeur nie. Pleks daarvan was dit Charlotte wat die reis onderneem het, van Mosselbaai na Pretoria, om haar dogter te gaan begrawe. En terwyl ’n ouerpaar gerou het oor die verlies van hul geliefde dogter, was Suid-Afrika met afgryse vervul oor die koelbloedige manier waarop die jong meisie vermoor en vermink is.

Dieselfde oggend waarop Anika nog so vrolik oor die komende vakansie met haar ma gesels het, is sy vermoedelik in haar huis in Theresapark in Pretoria verkrag, met verskeie steekwonde in haar nek en lyf vermoor – en toe is haar hande tussen elmboog en pols afgekap en weggeneem.

Smiley is tans in die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal vir ’n tweede ronde sielkundige waarneming. Hy was dus nie op die hoewe tydens die ondersoek nie. Die saak gaan op 15 Desember voort.