Toe ’n besoek aan die haarkapper 46 selfies tot gevolg het, het die Britse ma Caroline Day besef haar 10-jarige dogter Ava het ’n nuwe fiksasie.

’n Selfie is waar ’n persoon (meestal met ’n slimfoon) foto’s van hulself neem en dan op sosiale media laai. Dit was verlede jaar die Oxford English Dictionary se woord van die jaar, en almal van Miley Cyrus tot die pous het selfies geneem.

Volgens Caroline (44) neem haar dogter daagliks altesaam sowat ’n uur selfies, en het in die afgelope twee maande 143 van hulle op haar tablet geneem. “Daar is Ava in die kombuis. Ava in die tuin. Ava in die slaapkamer. Dis alles ek, ek, ek,” sê sy.

Ava dink nie daar is enigiets fout met haar nuwe gewoonte nie, en sê haar vriende is net so obsessief soos sy.

Caroline is bekommerd oor die gevolge van die selfie-obsessie. Haar seun, Alex (14), neem af en toe een.

Ava het ’n Instagram-rekening, maar haar ma het verseker haar privaatheidsverstellings is so dat net haar vriende dit kan sien.

“Op hierdie beïnvloedbare ouderdom moet hulle hul gevoelens verken, nie elke sekonde van die dag wonder hoe hulle lyk nie. Dis asof meisies gedurig ’n spieël voor hulle gesig hou. Hoe gesond is dit om in elke liewe aktiwiteit die middelpunt te wees?” sê Caroline.

Verder sê sy ook bekendes soos Kim Kardashian, Beyoncé en Miley voer die obsessie oor verder: “Hulle kan skaars ontbyt eet sonder om die geleentheid te gedenk en met hul aanhangers op sosiale media soos Facebook, Twitter en Instagram te deel nie.

“Vir Ava en haar vriende is dit amper asof die ervaring nie tel nie, tensy jy foto’s daarvan neem.”

Dit herinner aan Danny Bowman, die Britse 19-jarige wat so obsessief oor selfies geraak het dat hy elke dag 200 geneem het. Sy obsessie het hom tot selfmoord gedreig. Hy ly aan liggaamsdismorfiese steuring, ’n ernstige steuring oor liggaamlike voorkoms.

Instagram se reëls:

  • Jy moet minstens 13 wees om dit te gebruik.
  • Jy mag nie inhoud plaas met geweld, naaktheid, diskriminasie, onwettige aktiwiteite, pornografie of seksuele suggestie nie.

- Megan Bursey

Bronne: dailymail.co.uk, Instagram.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.