Woensdagmiddag, tydens die atletiek-oefening by haar skool vir kinders met spesiale behoeftes, Pro-Practicum, het sy stof in haar mededingers in die 800 m- en 1 500 m-wedloop se oë geskop; dit nadat sy op 29 Januarie ’n keisersnee gehad het.

“Irene wou Donderdag aan ’n interskolebyeenkoms deelneem, maar toe sy Woensdagmiddag klaar gehardloop het, het haar afrigter haar huis toe gestuur en gesê sy mag eers oor ses maande hardloop,” vertel Irene se ma, Irene sr.

“Sy was so kwaad, want al wat sy wil doen, is hardloop.”

Irene sr. sê, volgens die afrigter, moet sy eers ten volle herstel van die keisersnee, want as sy nou iets oorkom, kan dit haar atletiekdroom kelder.

Irene se swangerskap het reeds ’n demper op haar droom geplaas. Dit was kort nadat sy bekend geword het omdat sy, ten spyte daarvan dat sy amper nie tone het nie en boonop sonder tekkies draf, die een rekord ná die ander verpletter het.

[caption id="attachment_68234" align="aligncenter" width="600"]Foto: Dino Codevilla Foto: Dino Codevilla[/caption]

Sy was 18 maande oud toe haar oppasser haar per ongeluk in ’n bad kookwater laat sak. Die oppasser het nie opgelet dat een van Irene se sewe boeties die warmwaterkraan oopgedraai het nie. Haar tone is permanent beskadig.

Tog het Irene tydens haar swangerskap al besluit sy gaan nie ophou hardloop nie. Sy het smiddae om die blok gaan draf saam met haar “hardloopgroepie” wat bestaan uit nege kinders wat, nes sy, in die Kroningspark-woonwapark op Krugersdorp woon.

Nou moet sy dit maar weer doen, sê ma Irene. “Sy sal smiddae om die blok moet gaan stap en die walle uitstap, net om fiks te bly,” sê Irene sr.

“Dit is goed sy het gaan hardloop by die skool. Sy het nou vir almal gewys sy kan wen.”

Tussendeur is klein Jayden smiddae ook Irene se verantwoordelikheid; ouma Irene kyk soggens na hom wanneer sy ma by die skool is.

“Jayden word groot. Al wat hy wil doen, is om te drink. En hy is so sterk. Irene kom mooi reg met hom so tussendeur die skoolganery.”

- Hilda Fourie