Irene van Wyk, die gospel-sangeres wat twee jaar gelede in ‘n motor-ongeluk dood is, se dogter is besig om haar eerste enkelsnit op te neem.

Irene-Louise (18) is tans in die opname-atlejee doenig met die liedjie, So Unreal, oor haar ma se dood. Sy het dit self geskryf, en Nianell het dit getoonset.

Haar pa, die musiekpromotor Louis van Wyk, sê Nianell was só beïndruk met die liedjie dat sy dadelik ingestem het om dit in ‘n duet met Irene-Louise te sing. “Dis so mooi, dit bring ‘n traan in die oog,” sê Louis trots.

Irene-Louise sê sy het die liedjie geskryf om haar ma se dood te probeer verwerk. “Dit gaan oor die gevoelens wat ek gehad het oor haar dood en die woorde kom uit my hart uit.”

Sy sê dis ‘n baie hartseer liedjie en dit het haar ‘n rukkie gevat om dit te sing sonder om in trane uit te bars. Sy was die laaste een om haar ma lewend te sien op die dag van die noodlottige ongeluk.

Irene-Louise is vanjaar in Graad 12 en wil graag volgende jaar ernstig aan haar sangloopbaan werk, maar sy wil ook ‘n kursus in skoonheidsterapie doen sodat sy “iets het om op terug te val”, soos Pa Louis sê.

In die toekoms kom daar beslis ‘n vollengte CD, maar vir eers sal die nuuskieriges met net die enkelsnit tevrede moet wees. Sodra dit gereed is, sal ons dit vir Huisgenoot-com-lesers oplaai.