Dié liefdadigheidsregatta (bootwedren) ten bate van jong seil-entoesiaste word onder beskerming van die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee gereël.

Die geleentheid is nie net op glansmense, ambassadeurs en sportsterre gemik nie, maar ook – en belangriker nog – die jong seilvaarders van die Royal Cape-seilakademie en die Izivunguvungu MSC-jeugstigting in Simonstad.

Meer as 30 bote is ingeskryf vir die wedvaart wat waarskynlik sowat twee tot drie uur sal duur en waartydens die bote al langs die kus net buite die hawe sal vaar. Die geld wat met die inskrywings ingesamel word, sal aan die jong seilvaarders van die twee akademies geskenk word. Die Royal Cape-seilakademie en Izivunguvungu is veronderstel om laeinkomste en agtergeblewe gemeenskappe te bevoordeel. Met die Izivunguvungu-projek leer die jeug die grondbeginsels van seil en musiek wat vir hulle beter werkgeleenthede help skep. Die liefdadigheidsregatta sal hul seilopleiding ondersteun.

Die wedren begin om 14:00 en die prysuitdeling vind om 17:30 op die dek plaas.

Vir nog inligting, gaan na www.rcyc.co.za.