Inwoners van die dorpie Onoway in die Kanadese provinsie Alberta het Dinsdagoggend kopgekrap toe skelpienk drinkwater skielik uit hul krane vloei.  

Al die water, ook dié in toiletbakke, was gekleur. Die pienk water het paniek veroorsaak, want mense was bang dit kan hulle siek maak. Sommige inwoners het glo teen laat Maandagmiddag begin agterkom hul water het ’n pienk skakering en teen Dinsdag was heelparty huishoudings se water helderpienk.

Gelukkig was die dorp se nagenoeg 1 000 inwoners verniet besorg oor hul gesondheid: ’n Niegiftige middel wat die plaaslike owerheid gebruik om water mee te suiwer, was die oorsaak van die vreemde kleur.

Dié middel, kaliumpermanganaat, kan water pienk verkleur. Dit het by die watersuiweringsaanleg in die inwoners se drinkwater beland.

Nadat die owerheid 'n verskoning en verduideliking uitgereik het, het die burgemeester, Dale Krasnow, erken hulle kon die voorval beter hanteer het.

"Ek is jammer ons het nie vooraf ’n verklaring uitgereik om mense te waarsku hul drinkwater gaan pienk wees nie." Blykbaar wou die dorpsraad eers al die feite oor die water bymekaarkry voor hulle ’n verklaring uitreik.

Laat Dinsdagmiddag was die water in die meeste huishoudings se krane reeds net ’n ligte pienk.

Bronne: Twitter, CTV News Edmonton, BuzzFeed.