Volgens Theo Layne van die stad se brand-en-reddingsdienste het minstens agt brandweerwaens en meer as 100 brandbestryders die vlamme probeer blus wat deur ’n sterk wind aangeblaas is.

’n Helikoper is ook ingespan om die vlamme te help blus.

In die middernagtelike ure het inwoners naby aan Deerpark-rylaan en Disapark hul huise begin ontruim weens die swaar rook in die omgewing. Elana Marais, wat in Yeoville-weg in Vredehoek woon, vertel sy het ongeveer halfelf Maandagaand bekommerde boodskappe van vriende in die omgewing ontvang wat wonder of hulle eerder hul huise moet onruim.  

"Dit was baie intens," vertel sy aan Huisgenoot. Brandbestryders was bang kole val op huise se dakke en veroorsaak so dalk nog ’n brand.

"My man was bykans die hele aand in die straat voor ons huis om seker te maak dit gebeur nie," vertel sy. Tussen een- en drie-uur Dinsdagoggend is ’n straat net onder hulle deur die owerhede gevra om te ontruim weens digte rook. "Teen daai tyd was ons hele buurt in die straat besig om seker te maak nie nog vure breek uit nie," vertel sy.  

Talle mense wat besluit het om hul huise te verlaat het na nabygeleë restaurante gegaan, waar gratis koffie voorgesit is en inwoners hul troeteldiere kon water gee. "Die hele Vredehoek-gemeenskap het byeengekom."  

Teen drie-uur het die reddingsdienste laat weet die vlamme was onder beheer, maar Elana vertel haar man het steeds nie ’n oog toegemaak nie.

"Hy het die hele aand ’n ogie gehou," sê sy. "Hy was die een wat my en ons baba veilig gehou het."