“Ek het nooit gedink ek sou die slagoffer van internetbedrog word nie, aangesien ek myself nog altyd as ’n internetslim mens beskou het. Maar ek moet erken, dit was so ampertjies of ek het die prooi van hierdie ene geword – en dit sou my my geliefde DSLR-kamera gekos het,” vertel sy.

“Ek het onlangs Kaap toe verhuis om met my droombetrekking te begin. Soos almal weet wat al getrek het, kos dit jou nogal heelwat.

“Boonop is my broer enkele dae ná my hervestiging oor heg en steg by die huis in Durban getroud. Nadat ek my sommetjies gedoen het, het ek besef daar is geen manier waarop ek ’n retoervlug Durban toe sou kon bekostig nie. Maar dis my broer en dis sy groot dag; dus het ek daar en dan besluit om my kamera te verkoop.”

Sy sê soos elke millenniër weet, was die volgende stap om foto’s van die kamera te neem en hulle op Facebook en ’n paar koop-en-verkoop-webtuistes te laai.

“Ek het gou ’n paar aanbiedings vir my kamera gekry, maar hulle was aansienlik laer as my prys. Toe kry ek ’n SMS van ’n koper wat vra ek moet vir hom ’n e-pos stuur as die kamera nog beskikbaar is.

“Ek het dit dadelik gedoen, en iemand met die naam Heyns Schoeman bied toe aan om my kamera vir R3 700 te koop. My prys was net R3 300. Ek moes tóé al besef het iets is nie lekker nie.”

pampaypallemail1

Pam het “Heyns” gevra om die geld in haar rekening te deponeer, dan sal sy die kamera vir hom aanstuur. Sy storie was hy is in die buiteland en kan dus nie die geld in ’n bankrekening deponeer nie. Hy vra toe of hy dit deur PayPal kan aanstuur.

“Nou ja, ek het al van PayPal gehoor, maar ek was nie alte gretig om iets te gebruik wat ek nie ken nie. Aan die ander kant was ek desperaat om by my broer se troue uit te kom, en verskeie van my vriende het al van die diens gebruik gemaak. Toe skep ek ’n PayPal-rekening.”

pampaypalemail2

Pam vertel toe sy haar PayPal-besonderhede – eintlik net ’n e-posadres – aan haar nuwe “vriend Heyns” stuur, kry sy ’n e-pos van service@paypal.com wat heeltemal in orde lyk vir iemand wat PayPal nog nooit vantevore gebruik het nie.

“Maar ek het begin vermoed iets is verkeerd toe ek geen verwittiging op my foon se PayPal-toepassing kry nie. Ná ’n ruk het ek dit gelos en gereken dit was omdat die transaksie steeds hangende is.”

pampaypalemail3

Sy het ’n bietjie navorsing oor PayPal gedoen en ontdek dit neem in sommige gevalle tot 21 dae voor die geld getoon word. Maar haar broer se troue was oor twee dae en sy moes nog ’n vlug bespreek!

“Ek kon eenvoudig nie so lank wag nie, dus stuur ek toe ’n e-pos aan my ‘koper’ en vertel hom van my probleem. Ek sê toe vir hom ek het besluit om die transaksie te kanselleer en hy moet sy geld terugneem. Hy sê toe hy is desperaat en die transaksie behoort onmiddellik deur te gaan. Ek het hom jammer gekry en besluit om maar voort te gaan.

“Ek het die volgende oggend vroeg opgestaan, by die naaste koerierdiens ingestap en R200 betaal sodat my pakkie gestuur kon word. Tydens ’n geselsie met die jong man agter die toonbank het ek hom begin vertel van PayPal en dat hulle my sporingsnommer wou hê voor my geld beskikbaar gemaak sou word.

“Toe verander sy glimlag in ’n frons. Hy sê toe dit klink nie reg nie en maak ’n plan om seker te maak dat die koper eg was. Hy sê toe hulle sal die kamera verpak en vir my ’n sporingsnommer gee, maar die kamera eers terughou tot my geld deurgekom het. Ek het gedink dis baie slim.”

Ná middagete het Pam ’n e-pos aan PayPal gestuur en die volgende e-pos in antwoord ontvang:

pampaypalemail4

“Toe stuur ek die geskandeerde dokument deur. Terwyl ek op hul antwoord wag, val my oog op die bykomstige e-posadres langs die Service@Paypal.com,” vertel sy.

Toe sy die vreemde adres google, vind sy uit mail2world.com is ’n gratis e-posdiens – en net daar raak sy agterdogtig.

“Ek gaan toe na die PayPal-webtuiste en soek “help for potential scams”. Ek kon myself skop dat ek dit nie eerder gedoen het nie. Hulle sê uitdruklik hulle sal nooit ’n kwitansie of sporingsnommer vra voor die verkoper die geld gekry het nie. Ek stuur toe al die e-posboodskappe aan na Spoof@paypal.com en hulle bevestig dit: Ek is bedrieg!

“Ek het onmiddellik die hulpvaardige koerier gebel en hom gevra om nie my kamera te pos nie. Toe stuur ek ’n e-pos aan die kastige koper en vertel hom ek weet wat aangaan, maar ek was te laat. Die e-posadres was reeds nie meer in gebruik nie.

“Die bedrieër het twee dae later teruggekom en my gevra wat aangaan. Ek het hom weer gesê ek weet waarmee hy besig is. En dit was die laaste sien van hom.”

Die les in die verhaal? Wees versigtig wanneer jy geld aanlyn stuur of ontvang. PayPal is ’n beproefde en betroubare diens – maar daar is bedrieërs daar buite wat gebruikers wil uitbuit.

“Ek was byna my kamera kwyt, om nie te praat van die tyd wat ek met ’n bedrieër gemors het nie. Die ergste van alles? Ek het nooit by my broer se troue uitgekom nie.”

PAYPAL SÊ:

“Spoofing/Phishing” is ’n wederregtelike poging om ’n kliënt te bedrieg deur ’n e-pos te stuur wat lyk asof dit van ’n maatskappy soos PayPal kom. Dit vra hulle om op ’n skakel te klik wat hulle na ’n webtuiste neem wat nie PayPal s’n is nie.

PayPal raai sy klante aan om nooit op skakels in e-posse te klik nie, selfs al lyk dit asof dit van ’n betroubare bron af kom.

Tik altyd die skakel self in ’n blaaier en kyk uit vir “https” voor die adres om seker te maak jy is op ’n wettige, veilige webtuiste, soos PayPal. Klik hier vir nog inligting.

Dit is ook ’n nuttige skakel om seker te maak of ’n e-posboodskap werklik van PayPal af kom.

– Pam Magwaza