Die sosiale netwerke was behoorlik aan die gons nadat dit bekend geword het die Britse tennisster Andy Murray het ’n vrou as sy afrigter aangestel.

Maar mense op Twitter was allesbehalwe ondersteunend, en het kritiek gelewer teen die feit dat Andy ’n vrou gekies het. Amélie Mauresmo het self in 2006 die Australiese Ope en Wimbledon gewen en is ’n ervare speler, maar haar suksesse is blykbaar nie genoeg om kritici stil te maak nie. “Ek wil nou nie seksisties wees nie, maar hoe kan ’n vrou Andy Murray se spel verbeter?” het een man op Twitter gevra, terwyl ’n ander gesê het dit is prakties dat Andy ’n vrou aangestel het, “want dan kan sy lekker skottelgoed was en kook terwyl Murray vir sy tennis toer”.

Ander het weer Amélie se fikse, atletiese voorkoms aangeval en gesê sy lyk meer na ’n man as ’n vrou. “Mense moet ophou kla oor die feit dat Andy haar aangestel het, want sy lyk tog in elk geval nie soos ’n vrou nie,” het een Twitter-gebruiker opgemerk. Aanhangers van Amélie het in opstand gekom teen die kritiek en gesê dit is bemoedigend dat Andy ’n vrou aangestel het.

Haar kontrak strek voorlopig tot die einde van die Wimbledon-toernooi en sal moontlik hernu word as haar en Andy se vennootskap vlot verloop.

Bron: BuzzFeed News