Eers was daar die oopdy-tendens met meisies wat vollengte-selfies oplaai om te wys dat hul dye nie aan mekaar raak nie; want hoe groter die gaping, hoe groter die kans om lyfdoelwitte te bereik.

Genadiglik het dié verregaande neiging sy fut verloor toe beroemdes soos Meghan Trainor en Beyonce dit kritiseer.

 

Maar nes ons begin dink het ons het eindelik hierdie soort skadelike giere agter die rug, duik nog een op: ribbekas-spoggery.

Ribbekas-spoggery, soos die Daily Mail dit gedoop het, is presies wat die naam sê – die tentoonstelling van ’n prominente ribbekas op jou kiekies in die sosiale media.

Ongelukkig lyk dit asof dit bekendes was wat hierdie lyfdoelwit-tendens onbewustelik begin het.  

A post shared by Bella Hadid (@bellahadid) on

Die werklikheidster Kourtney Kardashian en model Bella Hadid tel onder die beroemdes wat bikinifoto’s van hul plankdun magies in die sosiale media gedeel het waar hulle ribbekas duidelik sigbaar is.

Doelbewus of nie, spoor dit aanhangers aan wat bitter graag ook so wil lyk.

“Net om die gedagte tuis te bring, hou 718 000 gebruikers tot dusver van Bella Hadid se skraal beeld,” wys Mail se Sarah Young uit.

“Dit is ’n hele klomp aanhangers wat dink dat dit iets goeds is om ribbes te hê wat so prominent is dat jy hulle kan tel.”  

“Is dit nie hoogtyd dat hulle stilstaan en nadink oor die boodskap wat sulke foto’s oordra nie?” voeg Young by.

Wat is in elk geval so koel daaraan om iets wat na ’n kaasrasper lyk weerskante van jou maag te hê?

Bronne: independent.co.uk, dailymail.co.uk