Die 21-jarige Courtney Stewart het internasionaal woede ontketen toe sy ’n foto plaas waarop ’n volwassene die kleuter, wat in die wasmasjien is, se hand vashou.

Maar Courtney, self ’n ma, sweer die twee-en-’n-halfjarige seuntjie het self in die wasmasjien geklim, en dit was vet pret.

“Hy is lief vir die wasmasjien,” het sy aan die Daily Record gesê. “Ons het ’n foto geneem en dit was snaaks.”

Haar bure het na bewering die polisie ontbied uit vrees vir die seuntjie se veiligheid.

“Dit was verskriklik om te aanskou,” het een van die bure gesê. “Dit is ongelooflik dat enigiemand, wat nog te sê ’n ouer, so ’n foto kan neem en dit vir die grap op Facebook kan plaas. Dit is nie ’n wonder mense is kwaad daaroor nie.”

Maar Courtney het geweier om verskoning te vra, en sy het die mens wat haar by die polisie verkla het, gekap. Twee polisiebeamptes het haar meer as ’n uur lank ondervra, maar hulle is daar weg en het nie die saak verder ondersoek nie.

“Ek dink dit is absoluut gek,” het sy gesê. “Wat het hulle nou eintlik gedink doen ek met hom? Wou ek hom miskien vir ’n wenteling neem?”

“Hy het ietwat van ’n obsessie oor was. Almal wat hom ken, sal weet hy het ’n obsessie daaroor.”

Sy het intussen die foto van Facebook afgehaal.

Bronne: dailyrecord.co.uk, telegraph.co.uk