Die ses maande oue Wesley van Michigan in Amerika het ’n unieke stel hondedraardjies gekry en hy kan skaars ouliker lyk.

Sy eienaar, Jim Moore, is ’n veearts wat spesialiseer in tandheelkunde vir diere en moes Wesley se gebit help herstel omdat hy glo nie sy bek behoorlik kon toemaak nie, pyn verduur het en moeilik geëet het.

Kyk: Ons waarborg jou hierdie oulike diere gaan jou hart vermurwe

“Ortodonsie by troeteldiere word normaalweg nie om estetiese redes gedoen nie,” het Jim op sy Facebook-blad verduidelik nadat hy foto’s van Wesley gedeel het. “Ons doen dit wanneer ons besorg is oor ’n troeteldier se gesondheid.”

Wesley sal gelukkig net ’n paar weke met die draadjies moet loop en Jim sê hy pas goed aan by sy nuwe, blink bekkie.

“Hy geniet die aandag!”

As jy graag jou hondekind se glimlag wil opkikker, gaan dit jou ’n paar rand uit die sak jaag, sê dr. Gerhard Steenkamp, ’n veearts van VetDentSA in Pretoria wat spesialiseer in tandheelkunde vir diere.

“Daar is net twee veeartse in Suid-Afrika wat dié prosedures uitvoer. Normaalweg behels ons werk tande poleer en trek. Ortodonsie vir troeteldiere is baie skaars.”

Kyk: Hond word liederlik deur sneeubal gefnuik

Hy verduidelik dat die koste gaan afhang van die troeteldier se grootte en ouderdom, die soort ortodontiese behandeling wat hulle nodig het en hoeveel sessies narkose vereis word.

Hy noem ook dat veeartse net dié prosedures uitvoer wanneer daar ’n baie goeie mediese rede is.

Dit word gedoen om pyn te verlig en die dier te help. As dit vir estetiese redes is, word dit as ’n onetiese praktyk beskou.

Bronne: BuzzFeed, Harborfront Hospital for Animals se Facebook-blad.

– Mieke Vlok

Ook op Huisgenoot.com

Heldhaftige bulterriër red SA vrou van kobra

Video: Ongelooflike oomblik toe sirkusleeus vryheid in SA tuiste ervaar

Ly jou hond dalk aan depressie?

Dié kat neem beter selfies as jy

Video: Hondjie klap saam op sy gunsteling-liedjie