Trevor Noah het die afgelope naweek die Comedy Person of the Year-prys by die Just for Laughs-toekenningsgeleentheid in Londen gewen.

Before I got a "Job" I never used to understand why people loved Fridays so much. #finallyfriday

A post shared by Trevor Noah (@trevornoah) on

Die aanbieder van The Daily Show het in sy aanvaardingstoespraak vertel van sy persoonlike stryd teen depressie en hulde gebring aan die persoon wat hom help besef het hy het ’n geestesiekte – Jim Carrey. 

“Ek het nie geweet wat die ding was nie,” sê Trevor.

“Ek het net gedink ek hou daarvan om soms weke aaneen te slaap, en toe lees ek jou (Jim se) storie en dink: ‘Oe hel, dit is wat aangaan’, en ek bedank jou daarvoor want ek het ’n manier gevind om daarteen te baklei.

“Ek het ’n manier gevind om ’n gemeenskap te bou en dis wat hierdie plek is – dis ’n gemeenskap van mense wat iets probeer verrig.”

Die komedielegende was een van die eerste komediante wat oopgemaak het oor wat meeste komediante heimlik deurmaak, het die Suid-Afrikaansgebore ster gesê.
 
“Jim Carrey was een van die eerste komediante wat die monster beskryf het wat talle van ons in die vertrek mee te doen kry, en dis depressie. Jy kan nie wen met komedie nie. Elke komediant weet dit: Jy gaan goeie en slegte dae hê, maar jy wen nie. Om te wen, is om anderkant uit te kom sonder dat jy jou eie lewe geneem het.”
 
Trevor het ook genoem dat talle mense nie glo komediante ly aan depressie nie omdat “ons altyd grappe vertel”.

“Die snaakse ding van depressie is dat mense sê: ‘As jy depressief is, kan jy nie glimlag nie; as jy depressief is, kan jy nie grappe vertel nie’, maar as komediante is die een ding wat meeste van ons deel daardie apie op depressie se rug.”

Trevor het later die aand ’n foto gedeel van hom saam met sy held nadat hy ’n selfie by die toekenningsgeleentheid geneem het. 

Bronne: Times Live, EWN, IOL