Organiseerders van die Kaapstad-fietstoer hou vol hulle het die regte besluit geneem om die wedren Sondag te kanselleer.

A post shared by Armand Hough (@black_narrative) on

“Ons is 110 persent seker ons het die regte besluit geneem,” sê David Bellairs van die Kaapstad-fietstoer se trust. “Ons het geen twyfel daaroor nie. Ons het ook besef daar was baie onervare ryers wat sou deelneem en dit sou dom gewees het om hulle in sulke weersomstandighede te laat ry.” Dié wedren, wat vanjaar vir die 40ste keer sou plaasvind, lok jaarliks duisende fietsryers na Kaapstad. Minstens 35 000 fietsryers het vir vanjaar se wedren opgedaag. Diegene wat eerste weggespring het, het reeds sowat 21 km van die 109 km lange roete afgelê toe die organiseerders besluit om die handdoek in te gooi.

A post shared by ?? (@burgerstorm) on

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die fietstoer dat só ’n besluit geneem is. In video's wat Sondag wyd in die sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe fietsryers verpoos probeer om staande te bly terwyl die wind hulle looi. In ’n stadium word een fietsryer se fiets as't ware amper uit sy hande gewaai. Tog sê David hierdie is nie die eerste keer dat gure weerstoestande ’n beduidende invloed op die resies gehad het nie. “In die laat 1980's het ons een jaar reën gehad. In 2002 was daar ’n reusehittegolf en moes ons die resies met ’n uur en half vervroeg omdat dit net te warm geword het. In 2009 het die wind ook sterk gewaai. “Ek weet daar is mense wat sê Sondag was nie so winderig soos daai dag in 2009 nie, maar ek was daar en ek kan sonder twyfel sê dat Sondag baie meer wind gehad het.” In 2015 is die roete met die helfte verkort nadat daar groot veldbrande langs die roete uitgebreek het.

A post shared by Norma (@normaisamom) on

Intussen het plaaslike sowel as internasionale fietsryers probeer positief bly, ondanks die reuseteleurstelling. Fietsryers van so ver as Japan en Switserland het na Kaapstad gereis om aan die resies deel te neem.

Alison Kent van Australië sê sy is teleurgesteld, maar ondersteun die organiseerders se besluit. "Dit was nie veilig nie en as ’n nooddiensspesialis weet ek watter slagting daar sou plaasvind as die resies voorgegaan het.

“Dit gee my nog ’n rede om volgende jaar terug te kom (asof ek ’n verskoning nodig het om in jul lieflike stad te kom kuier).”

"Ek is ’n ryer van Duitsland en dit sou my eerste fietstoer gewees het," skryf Detlev Brandt op sy beurt. “Dit was die regte besluit. Die resies sou andersins in ’n ramp ontaard het en baie mense sou seergekry het. Dankie vir almal wat gehelp het. Ek is volgende jaar terug.”

Nog ’n man van Duitsland het onder die skuilnaam Overseaentran op die webwerf Bikehub geskryf hy het saam met sy familie Suid-Afrika toe gekom vir die resies en dat dit hom sowat R100 000 uit die sak gejaag het.

Sally Bremmer van Engeland sê sy is bitter teleurgesteld, maar verstaan dat dit vir die beste is. “Ek sou dit gehaat het om in die wind te sukkel. Daar sou oral ongelukke gewees het. Dit was 100 persent die regte besluit.”

David sê hulle voel verpletter saam met al die mense wat ver gereis het om te kom deelneem. “Daar is baie dinge wat ons kan beheer, maar die weer is nie een van hulle nie. Dit is alles baie hartseer.”

Die organiseerders het bevestig dat geen deelnemer hul inskrywingsgeld gaan terugkry nie.