“Toe nie, hoor! Toe besluit dié koolkoppie mos sy gaan graad vang!” vertel Tanya Groenewald (29) hier op haar oom Francois en tannie Erika Potgieter se kleinhoewe naby Middelburg in Mpumalanga. Sy glimlag breed terwyl sy haar elektriese rystoel nader aan die tafel stuur. Sy kan haar hande net gedeeltelik gebruik en haar onderlyf is verlam. Maar toe sy vroeër vanjaar tydens Unisa se gradeplegtigheid met haar rolstoel op die verhoog ry om haar B.Ed.-graad te ontvang, het dié aspirant-onderwyseres nie geweet watter opdraande stryd daar op haar wag om werk te kry nie.

'Sodra hulle hoor jy is serebraal gestremd, wil hulle niks met jou te doen hê nie.'

Haar glimlag lyk moedeloos. Sy het die afgelope drie maande reeds sowat 70 CV’s na skole gestuur, “maar sodra hulle hoor jy is serebraal gestremd, wil hulle niks met jou te doen hê nie”.

Sy is sedert geboorte in haar onderlyf verlam en kan haar hande net gedeeltelik gebruik.

Toe sy hoor van ’n onderwyspos by ’n skool vir serebraal gestremde kinders het sy dus gedink dis ideaal vir haar. “Maar toe laat weet die skoolhoof my dis beter dat ek by ’n kafee gaan till slaan.”

Haar liggrys oë raak skielik klam.

“As jy gestremd is, kyk mense met ander oë na jou. Hulle dink jy is stupid. Ek het dit ook agtergekom by een van die skole waar ek geproef het. Daar is altyd ’n groep wat jou probeer uitwerk en nie ’n kans wil gun nie.”

Maar daar is ook ligstraaltjies wat haar moed gee om aan te hou probeer, soos die kaartjie wat ’n seun uit haar voormalige proefklas vir haar gegee het. “Juffrou het my dinge geleer wat ’n boek my nie kan leer nie,” lees dit.

“Dis hoe dit gaan in die lewe; vanaand huil jy, maar môre staan jy weer op,” bewoord Tanya haar filosofie.

Gradeplegtigheid

Sy was daardie aand trots toe sy die verhoog by die gradeplegtigheid verlaat, maar sy het ook gehuil.

“Elke kind wil mos maar hul ouers in die gehoor hê,” verduidelik Tanya. En later: “Hulle het darem elkeen ’n SMS gestuur, so dis seker oukei...”

Haar ouers, Willem en Petro, was onderskeidelik 21 en 16 toe sy in 1985 in Pretoria-Wes gebore is, maar dié huwelik het net twee jaar gehou. Haar oupa en ouma Koos en Marie Groenewald het die verlamde baba by hulle ingeneem en versorg.

“My ma het net verdwyn. My pa het darem so af en toe kom inloer.”

Ma en dogter het drie jaar gelede weer kontak gemaak, “maar dit wou maar net nie tussen ons werk nie”, vertel Tanya.

Haar ouma is net ná haar vyfde verjaarsdag oorlede en sy en haar oupa het alleen agtergebly.

“Verlede jaar het hy ’n longsiekte gekry. Saans het ek langs sy bed gesit en leer,” onthou sy. “Toe ek my laaste vak in November skryf, toe ek uit die saal kom, toe bel my tannie my. My oupa het gesterf terwyl ek besig was om te skryf.”

Daardie gradeplegtigheid was vir hom bedoel, sê Tanya. As sy nou net daardie droompos kan kry...

Die sanger Manuel Escorcio was in die gehoor tydens Tanya se gradeplegtigheid nadat sy hom uitgenooi het. Die twee het verlede jaar by een van sy konserte ontmoet, waarna Manuel haar per SMS met haar studies en eksamen ondersteun het. Hy sê hy beskou haar as ’n juweel wat ’n voorbeeld “vir ons normale mense is. “Sy het dit nog nooit maklik in die lewe gehad nie, maar ten spyte daarvan het sy deurgedruk om haar akademiese doelwitte te bereik. Haar deursettingsvermoë is ’n inspirasie.”

Deur Jaco Hough-Coetzee

tanya-2