Die 20-jarige Andrew Farley van Australië moet skadevergoeding van byna R1 miljoen betaal nadat hy “vals bewerings” oor ’n oudonderwyseres op sosiale media geplaas het.

Andrew, voorheen ’n leerder van die Hoërskool Orange in Orange in Nieu-Suid-Wallis, het sy vorige musiekonderwyser, Christine Mickle, in 2012 op Facebook en Twitter sleggesê.

Dit is onduidelik presies wat hy oor Christine (58) kwytgeraak het, maar hy het glo ’n wrok teen haar gekoester. Hy was vas oortuig sy het iets daarmee te doen gehad dat sy pa, ook ’n onderwyser, die skool moes verlaat.

Regter Elkaim het egter bevind daar is “absoluut geen bewyse om sy bewerings te staaf nie”. Tog was die gevolge van Andrew se uitlatings glo “rampspoedig”.

Christine het eers onlangs teruggekeer skool toe, jare nadat Andrew die uitlatings gemaak het.

Vanweë die uitspraak moes die twintigjarige homself bankrot verklaar. Hy ly ook glo aan depressie ná die uitspraak.

Dit is nie die eerste keer dat 140 karakters iemand so erg in die sop laat beland het nie.

Courtney Love (51) word tans deur haar eie prokureur, Rhonda Holmes, hof toe gesleep nadat die omstrede sangeres en aktrise glo aangevoer het Rhonda is “omgekoop” nadat sy geweier het om Courtney te help in haar regstryd oor haar oorlede man, Kurt Cobain, se boedel.

Bronne: Daily Telegraph, News.com.au