Joernalistiekstudente het vanjaar weer ’n kans om in te skryf vir die Franz Kemp-prys en een van drie studente te wees wat ’n jaar-lange internskap met ’n markverwante salaris by Huisgenoot, YOU of DRUM beleef.

“Die Franz Kemp-prys het dit vir my moontlik gemaak om sonder enige joernalistieke werkservaring ’n kans te kry om myself te bewys by ’n uiters suksesvolle tydskrif. Om deel te wees van so ’n dinamiese nuuskantoor met soveel verskillende afdelings is ’n besonderse leer-ervaring waarvoor ek ongelooflik dankbaar is,” sê Suzaan Hauman (28) van Port Elizabeth. Sy is een van die studente wat tans haar interskap voltooi en het haar graad in Joernalistiek by die Universiteit van Stellenbosch gedoen.

“Sover was dit ’n wonderlike ervaring. Wat die internskap so goed gemaak het is dat ons die geleentheid gehad het om te werk en skryf soos gekwalifiseerde joernaliste, en dit saam met talentvolle, ervare joernaliste wat Mnr. Kemp en sy werk etiek geken het. Ek is dankbaar en voel geeerd om in aanmerking te kon kom vir hierdie internskap en ek weet ek gaan die ervaring wat ek by YOU opgedoen het vir die res van my loopbaan met my saamdra,” sê Katlego Mkhwanazi (22) van Saulsville, Pretoria. Sy het haar honeursgraad in Joernalistiek by die Universiteit van Pretoria voltooi.

Die Franz Kemp-prys en -internskappe, wat bestuur word deur Huisgenoot, YOU en DRUM, is geskep om die lewe en loopbaan van een van Media 24-weekblaaie se voorste joernaliste te vier.

Kemp het sy loopbaan as joernalis in 1957 by die destydse Oosterlig (nou Die Burger Oos-Kaap) begin en in die byna vyftig jaar daarna hy by onder andere Volksblad en Die Beeld se sondagkoerant (later Rapport) gewerk. Hy het ook in Washington en Londen gewerk as korrespondent vir die Afrikaanse-koerante van Naspers (nou Media24).

In 1987 sluit Kemp aan by Huisgenoot en YOU, waar hy verskeie scoops losgeskryf het. Hy het eers in 2007 finaal afgetree as Johannesburgse kantoorhoof van Huisgenoot, YOU en DRUM, maar in 2008 was hy weer terug in die veld toe hy vir drie maande in Suid-Soedan gehelp het om joernaliste op te lei. In 2010, net minder as ’n jaar voor sy afsterwe, het hy die boek 60 Dae in Suid-Soedan vrygestel wat van sy ervaringe daar vertel.

Kemp is op 6 Maart 2011 ná ‘n siekbed oorlede.

Sy kollegas by Huisgenoot, YOU en DRUM onthou Kemp as ’n mentor en ’n nuushond. Maar dit was veral in sy twintig jaar as hoof van die Gauteng-kantoor van Huisgenoot, YOU en later ook DRUM dat hy menige jong skrywer gevorm en geïnspireer het.

Sy sukses word toegeskryf aan sy vaste geloof in die basiese beginsels van goeie joernalistiek:

  • Telefoonjoernalistiek sal jou nêrens bring nie. Klim in jou kar en ry na die plek toe.
  • Met jou aankoms, plaas jou regtervoet liggies in die deur sodat dit nie in jou gesig toegemaak kan word nie. Probeer om die sitkamer te haal!
  • Moenie loop nie, selfs al sê mense vir jou jy wag te vergeefs. Dikwels sal die persoon met jy wil praat toegee, bloot omdat jy daar is en nie wil weggaan nie.
  • Moet nooit oordeel nie. Jy is daar om ’n storie te vertel.
  • Wanneer die res van die media buite staan en wag is dit jou kans om ’n ander plan te bedink sodat die storie net joune is. (Kemp het dikwels mense “uitgesmokkel” en na ’n ander plek geneem, waar hulle in vrede kon gesels.)

Die Franz Kemp-prys vir uitmuntende tydskrifjoernalistiek behels drie internskappe vir studente met ’n kwalifikasie in joernalistiek en wat uitblink in die skryf van tydskrifstories.Daarby sal ’n kontantprys ter waarde van R30 000 aan die wenner-intern toegeken word op grond van die werk gelewer gedurende die internskap.  Die internskappe sal in die kantore van Huisgenoot, YOU en DRUM wees en studente in die joernalistiek aan enige tersiêre instelling kan vir die prys aansoek doen.

Om aansoek te doen, stuur ’n tweeblad-CV, hoogstens twee voorbeelde van nuus- en/of glans-artikels en ’n verwysingsbrief van een van jou dosente na Kirthi Lalbahadur by kirthi.lalbahadur@media24.com. Onthou om die woorde ‘HYD – aansoek om internskap’ in die onderwerpreel te plaas.

Die sluitingsdatum is 19 September 2013. Aansoeke kan in Afrikaans of Engels wees.