’n Boer van Noordwes is die naweek deur ’n insekvanger doodgeskok, het Beeld Dinsdag berig.

Willie Lubbe (32) het Saterdagaand saam met sy vrou, Hanneke, sy ma, Helena Lubbe, sy twee kinders (3 en 5 onderskeidelik) en ander familielede op die gesin se plaas naby Makwassie gebraai toe hy glo val.

’n Groot insekvanger het aan ’n afdak naby die braaiplek gehang.

“Wille het agteruitgetree. Ek is nie seker of hy sy balans verloor het nie, maar hy het na die insekvanger gegryp. Hy kon dit nie los nie,” het Helena gesê.

“Hanneke het hom probeer wegtrek, maar sy mos hom laat los, want die stroom het haar ook geskok.”

Die familie kon hom nie bybring nie. Hy is op Wolmaransstad dood verklaar.

- Sapa