Hy moet fisioterapie ondergaan nadat hy drie jaar gelede op Kersdag sy nek gebreek het. 

Volgens sy suster, Isabel Kruger (44), is openbare hospitale te vol. 

“As jy gelukkig is, kry jy binne ses maande weer ’n afspraak,” sê sy.

Gert het daardie dag agter ’n rugbybal aan in ’n swembad geduik. Sy voorkop het die rand van die swembad getref. 

“Almal het eers gedink hy spot, want hy het mense gereeld sulke strepe getrek,” sê Isabel. 

Hul ma, Isabel Schwartz, beter bekend as Meisie, het egter geskree hy het werklik seergekry en ’n ambulans is ontbied.

Gert Schwartz (33), ’n voormalige trokbestuurder van Krugersdorp, benodig fisioterapie

Gert is uit die swembad getrek en het reeds ophou asemhaal toe die ambulans opdaag.

Tydens twee operasies is dele van sy heupbeen gebruik om sy nek te herstel. 

“Hy kon maande lank niks doen nie; hy was bedlêend en iemand moes hom help om te eet,” vertel sy suster. 

Voor die ongeluk het Gert gereeld aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem, maar daarna kon hy glad nie meer sulke goed doen nie.

“Hy kan niks meer vir homself doen nie,” vertel Isabel. “Hy moet nou ’n staander gebruik om te loop.”

Gert moet ook permanent ’n kateter dra.

Hoewel hy ongeskiktheidspensioen ontvang, dek dit nie sy mediese uitgawes nie.

Meisie, sy primêre versorger, moes geld bymekaarskraap om hierdie toerusting te koop omdat hy dit nie kon bekostig nie. 

“Hy het vir ’n maand of twee nie (kateters) gekry nie,” vertel Isabel.

Volgens Meisie sukkel haar seun om sy hande oop te maak en kan hy dit dus nie gebruik nie. 

Sy vertel ook: “Die familie het nader aan mekaar gekom. Ons het meer begin bid.”

Gert bly tans by sy voormalige huurders nadat sy huis in April afgebrand het. Die familie vermoed daar was ’n probleem met die verbinding tussen twee drade. 

“Ons wag nog dat dit bevestig moet word,” sê Isabel.