Dit lyk so onskuldig soos ’n Lego-speletjie op ’n rekenaarskerm, maar kinders raak so behep  daarmee, hulle sal hul ouers belieg en selfs besteel – nes regte verslaafdes.

Haar “soet, goedgemanierde seun” van 11 het al haar en haar man se kredietkaarte gesteel om meer gevorderde weergawes van die speletjie Minecraft aanlyn te koop, vertel ’n ma  van Johannesburg. Die skade was R800 en hy moet dit uit sy sakgeld terugbetaal. Nog ’n ma meen sy kan haar 12-jarige seun se verslawing aan Minecraft regstreeks in verband bring  met sy lae punte op skool.

Ouers is so bekommerd oor hul kinders se beheptheid met dié rekenaarspeletjie dat Facebook-steungroepe al gestig is, onder meer My Kid’s Crazy for Minecraft en Mama (Moms Against Minecraft Addiction). Dis vir vroue wie se kinders en mans hulle nie van die speletjie kan wegskeur nie.

Op die webtuiste minecraftanonymous.com kan jy toets of jy verslaaf is. Daar is soortgelyke steungroepe en webtuistes vir ander rekenaarspeletjies soos World of Warcraft en RuneScape.

Maar kan ’n mens aan ’n oënskynlik onskuldige rekenaarspeletjie verslaaf raak?

Beslis, sê dr. Philip Tam, ’n psigiater en die president van die Network for Internet Investigation and Research in Australië. So ’n verslawing neem so toe, dit kan selfs as “die plaag van die 21ste eeu” beskou word, waarsku hy.

Sy het haar seun Marius* toegelaat om Minecraft op die rekenaar te speel, mits sy huiswerk klaar is, vertel Sandra Maree* van Sandton. “Nou kom dit uit hy het gejok dat dit klaar is sodat hy kon speel. Die moontlikheid is sterk dat hy gr. 7 moet herhaal.” Pleks van die speletjie uit die huis verban, het Sandra nou die rekenaar met ’n wagwoord gesluit sodat hy nie sonder haar toestemming kan speel nie.

“Die speletjie moedig logika, kreatiwiteit en probleemoplossing aan,” verduidelik sy. “Ek wil hom liewer sy tyd en prioriteite leer bestuur as dat ek die speletjie wegvat.”

Sedert dit in 2011 bekendgestel is, is meer as 20 miljoen eksemplare van Minecraft al in die aanlyn- en Xbox-weergawe verkoop. Dit kan teen amper R240 van die internet afgelaai word.

Maar waarom is dit so gewild? Ek het besluit om die speletjie self te beproef. Binne die eerste 20 minute in die blokkieswêreld van Minecraft kom ek agter jy moet take keer op keer uitvoer as jy wil vorder. Jy moet met geduld breek en breek en dan weer bou. Dit suig my ál verder by hierdie kuberwêreld in. Die sielkundiges het ’n naam daarvoor: kompulsiewe opeenvolging; dit dryf mense ook om aan te hou dobbel tot hulle iets wen.

Minecraft herinner nogal aan daardie Atari-speletjies wat ’n mens in die 70’s in arkades kon speel. Jy bevind jou tussen ’n klomp blokkerige bome in ’n landskap wat uit klein digitale boublokkies bestaan. My avatar, die digitale ek, moet eers bome met die vuis uitmekaarslaan. Daaruit kan ek gereedskap soos ’n houtpik bou.

Dan moet ek vinnig ’n skuiling uit die berg kap en steenkool en yster ontgin om fakkels en ander gereedskap te bou voor die son sak en monsters soos zombies en groen gedroggies genaamd “creepers” my wil opvreet. Dit verg vinnige vingers oor die toetsbord en laat die adrenalien pomp.

Jy kan ook Minecraft in die kreatiewe modus speel en wonderbaarlike strukture soos  lugkastele bou sonder dat jy bang hoef te wees vir gedrogte. Jy kan dit alleen of op die internet saam met mense wêreldwyd speel.

Ná ’n uur en ’n half kan ek verstaan hoekom mense so passievol daaroor raak. Wat is dan nou lekkerder as om jou eie wêreld uit blokkies te bou?

IS DIT VERSLAWING?

Iemand kan beslis verslaaf raak aan rekenaarspeletjies, sê Bryan D. Hellmann, ’n Kaapse sielkundige. “Verslawing is sielkundig gesproke nie tot middelmisbruik beperk nie.”

In ’n ondersoek oor die invloed van rekenaarspeletjies het prof. Mark Griffiths van die Universiteit van Plymouth in Engeland bevind 7 persent van leerders tussen 12 en 16 het minstens 30 uur per week daaraan gewy, en minstens 1 persent van dié leerders was daaraan verslaaf.

Hy reken daar is ooreenkomste tussen die verslawing aan heroïen en dié aan rekenaarspeletjies. Kinders ondervind ’n euforie en wil ál langer speel en ál meer punte opstapel. Nes heroïenslawe, ervaar sulke kinders onttrekkingsimptome wanneer hulle gedwing word om op te hou speel. Hulle word nukkerig en geïrriteerd.

En net soos met dobbel, word spanning in die speletjie geskep deur die wete dat jy die een of ander tyd ’n beloning gaan kry, jy weet net nie presies wanneer nie. Dit laat jou aanhou speel en ander aktiwiteite afskeep.

In ’n ondersoek is bevind seuns wat vyf uur of meer per dag rekenaarspeletjies speel, wy tot ’n derde minder tyd aan lees as dié wie se spelery tot een of twee uur per dag beperk is, vertel dr. Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion. “Afsondering volg dikwels op die oormatige speel van die rekenaarspeletjies,” waarsku hy.

Tog reken party kenners die speel van rekenaarspeletjies aanlyn kan ’n welkome sosiale oefening wees vir byvoorbeeld kinders met Asperger se steuring, ’n matige soort outisme. Maar dié interaksie gebeur in ’n onrealistiese wêreld met ander kinders wat elders voor hul rekenaar sit. “Daar is beter maniere om sosiale vaardighede in die werklike lewe aan te leer,” meen Hermann.

Die huidige Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-IV), die “psigiatrie-bybel”, erken nie speletjieverslawing nie. In die nuwe weergawe van die DSM word “Internet Gaming Addiction” wel vir toekomstige ondersoek oorweeg.

Alle kenners stem nie saam dat sulke speletjies verslawend kan wees nie. “Iemand kan aan enigiets verslaaf raak waaruit hy genot put,” sê Rakhi Beekrum, ’n sielkundige van Durban.

“Videospeletjies soos Minecraft verg vaardighede, soos met skaak en sokker,” meen Dean Groom, ’n Australiese opvoedkundige ontwerper en medestigter van Massively Minecraft,

’n program wat dié speletjie gebruik om kinders met hul leerwerk te help.

“Sukses in speletjies hang af van deursettingsvermoë, intelligensie, oefening en leer en berus nie op toeval nie. Om te sê Minecraft is verslawend is soos om te sê miljoene mense is verslaaf aan sokker. Die brein hou daarvan om geoefen te word. Ouers moet dan ook bekommerd wees oor skaak.”

* Skuilname.

GEVAARTEKENS

  • Jy onttrek en ervaar gevoelens van woede, spanning en/of depressie wanneer jy nie toegang tot ’n rekenaar het nie, skryf Jerald Block in The American Journal of  Psychiatry. Jy verloor ook tred met die tyd.
  • Jy moet ál meer speel en ál beter toerusting gebruik om bevrediging daaruit te put.
  • Jy lieg en skeep jou pligte en vriende af.
  • Oormatige irritasie en aggressie by ’n tiener kan dui op te min slaap. Dit kan ook ’n simptoom wees dat die brein oorlaai word weens die voortdurende waaksaamheid  as speletjies ’n beheptheid raak, sê Hermann.
  • Rekenaarspeletjies kan kinders met obsessief-kompulsiewe probleme aanmoedig om hul kompulsies uit te leef. Kinders met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring se  brein moet genoeg ruskans kry. Kies liewer minder opwindende aktiwiteite.

DIE REGTE BALANS

  • Moenie Minecraft as ’n kinderoppasser gebruik nie, sê Dean Groom, die medestigter van die opvoedkundige program Massively Minecraft, maar as ’n geleentheid om te leer. Spelers moet byvoorbeeld gedurig lewensmiddele tel om uit te pluis watter gereedskap en strukture hulle nodig het.
  • ’n Obsessiewe spelery kan daarop dui dat die speler aan die werklikheid wil ontvlug. “Ouers moet probeer vasstel waarvan die kind wil ontsnap,” sê die sielkundige Bryan D. Hellmann.
  • Speel saam met jou kind rekenaarspeletjies soos Minecraft, sê die Durbanse sielkundige Rakhi Beekrum, en bespreek die goeie en die slegte.
  • Ouers en onderwysers moet saamwerk om seker te maak kinders wat met  rekenaarspeletjies behep is, doen hul huiswerk. Bespreek maniere hoe hul verknogtheid aan Minecraft en die vaardighede wat hulle daardeur aanleer, soos hand-oog-koördinasie, wiskundige begrip en verbeelding, vir hul skoolwerk ingespan kan word.
  • Stel duidelike perke. Kom ooreen hoeveel uur jou kind op die rekenaar mag speel en hou daarby, sê die sielkundige dr. Hermann Liebenberg.

EKSTRA BRONNE: THENEXTWEB.COM, MINECRAFT.NET, DEANGROOM.WORDPRESS.COM

-       Pieter van Zyl