Reshama, ’n 18-jarige meisie van Bangalore, Indië, het ’n paar jaar gelede ’n verskriklike aanval oorleef.

’n Familielid het suur in haar gesig gegooi in wat lyk soos ’n jaloesie gemotiveerde aanval.Die suur het Reshama se gesig erg geskend en sy het haar linkeroog verloor.

Maar pleks van opgee, het Reshama besluit om in ’n nuwe video oor grimering mense bewus te maak van hoe maklik dit is om suur in die hande te kry.

Daarin wys sy haar skoonheidsroetine en hoe om lipstiffie aan te smeer. Op ’n ernstiger noot bring sy dit dan onder kykers se aandag dat lipstiffie en suur ewe maklik is om oor die toonbank aan te skaf. “Jy kry rooi lipstiffie net so maklik in ’n mark soos gekonsentreerde suur,” sê sy in die video. “Daarom is daar elke dag meisies wat die slagoffer is van ’n suuraanval.”

Elke jaar word sowat 1500 vroue in Indië met suur geskend.

Volgens die Wall Street Journal word tot 1 500 vroue elke jaar in Indië met suur aangeval.

Nie net word hul voorkoms geskend nie; die suur beskadig ook hul spiere en selfs hul inwendige organe.

Presiese besonderhede van Reshma se aanval is onduidelik. The Daily Mail berig haar swaer het die suur eendag in haar gesig gegooi toe sy teruggestap het van die skool af. The Huffington Post berig weer dit was haar man gewees.

In Indië is ’n 750 ml-bottel suur glo goedkoper as ’n bottel koeldrank. Die Indiese regering beplan nou maatreëls om die toegang tot hierdie gevaarlike vloeistof te bemoeilik.

Reshama moes al etlike operasies ondergaan om haar voorkoms te verbeter. Verlede jaar is in ’n veldtog sowat R120 000 ingesamel om die kostes daarvoor te help dek.

Vroue wat die slagoffers van ’n suuraanval was, sukkel gewoonlik daarna om weer in die samelewing aan te pas en etlike neem dan hul eie lewe.

Reshama hoop ’n video soos hierdie die aanvalle sal help verminder deur suur moeiliker bekombaar te maak.

Kyk hier na die video:

Bronne: Huffington Post, The Daily Mail