Die BETI vir Mei het tot onder nul gedaal nadat dit al maande lank afneem.

“Nie eens twee ekstra werkdae in Mei, besteding aan die verkiesing en die president se inhuldiging kon die syfers opstoot nie,” sê Mike Schüssler, hoofekonoom van economists.co.za.

“Al is ’n resessie nog nie ’n voldonge feit nie, begin die algehele ekonomiese transaksies wys iets skort.”

Mike sê omdat die kommoditeitspryse van Suid-Afrikaanse uitvoer ook aan die afneem is, dwing die bykomende druk die balans ten gunste van nog ekonomiese ineenkrimping.

Michael Rubenstein, BankservAfrica se hoof van korporatiewe reputasie, sê Mei se afname is nie die grootste kommernis nie; dis die voortdurende algehele afname in die BETI die afgelope vyf maande.

Die geldwaarde van alle transaksies het met een persent toegeneem voor aanpassing vir inflasie, terwyl die getal transaksies met 2,5 persent gestyg het.

Michael sê dit wys die gemiddelde waarde per transaksie het selfs in nominale waarde afneem.

Die getal transaksies was 84,2 miljoen – die derde hoogste tot dusver.

“Maar dis dalk net vanweë nuwe bestedingsverpligtinge, soos e-tol, pleks van ’n verhoging in werklike ekonomiese aktiwiteit. Swaarkry lê voor,” sê hy.

Mike sê die BETI is ’n amper akkurate aanduider wat die ware toedrag van sake effens vooruit is (met ’n maand of wat).

Dit dui nie op ’n verdere afname in die bruto binnelandse produk (BBP) nie, maar maak dit waarskynliker.

Hy sê die BETI en BBP-groei stem nie lynreg ooreen nie, maar die BBP gaan klaarblyklik jaar op jaar afneem, veral gegewe die histories verbintenis tussen die twee.

Ná ander aanduiders, soos motorverkope, se betekenisvolle daling in Mei, bevestig die BETI die afwaartse neiging in die ekonomie.

Die enigste bemoedigende faktor is die positiewe groei in internetverkeer die afgelope jaar.

“Al is die platinumstaking waarskynlik die grootste sondaar, begin die breër ekonomie ook ly,” sê hy.

“In die geheel is die staking se uitwerking aan die uitkring, want die BETI-opname dek die hele ekonomie.”

Mike sê die BETI het al in die verlede skerp afnames getoon in die maand nadat ’n groot staking beëindig is.

“Dit het in 2012 en in 2013 gebeur. Maar weens die onsekerheid oor die platinumstaking het ons beslis nog nie die laagtepunt van die BETI se afname gesien nie, en dit voorspel niks goeds vir ekonomiese prestasie oor die volgende paar maande nie.

“Weens nog moontlike en werklike stakings toon die Suid-Afrikaanse ekonomie verdere tekens van agteruitgang,” sê hy.